Koningsblou. Dis die kleur van sy bloed, sê Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, terwyl die DA Maandag bekend gemaak het dat hy sy lidmaatskap kwyt is ná “neerhalende aanmerkings”.
Mnqasela het die middag dié stelling herhaal wat hy die vorige dag ook op ’n mediavergadering gemaak het, waar hy die wantrouemosie bespreek het wat die DA teen hom beplan.
Hy het op Facebook gesê sy “bloed is blou”, sowat ’n uur voordat dit bekend geraak het dat sy partylidmaatskap glo verval het weens opmerkings oor die DA en die besluite teen hom wat Sondag gemaak is.