Adv. Busisiwe Mkhwebane, die beleërde openbare beskermer (OB), word nou ook deur die United Democratic Movement (UDM) en die African Transformation Movement (ATM) gesteun in haar poging om die parlement te keer om haar uit te skop.
Mkhwebane het op 1 April ’n hofaansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die parlement te keer om voort te gaan met die proses om haar uit haar amp te verwyder.
Bantu Holomisa, die UDM-leier, sê in ’n ondersteunende verklaring wat by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is, die UDM en die ATM steun albei die beëdigde verklaring wat Mkhwebane vroeër by dié hof ingedien het.