Almal wat nie amnestie vir apartheidsmisdade gekry het nie, soos vir die moord op die struggle-aktivis Ahmed Timol en honderde ander, moet vir hul destydse “gruweldade” aangekla én vervolg word, sê die ANC.
Die regerende party het dit Maandag op die vooraand van die 49ste herdenking van Timol se dood gesê.
Dié party is tans so vasbeslote om apartheidsera-misdadigers te laat boet, dat hy ’n gesamentlik komitee onder voorsitterskap van Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, gestig het om saam met Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, te werk aan ’n plan om geregtigheid vir families van slagoffers van onopgeloste apartheidsmisdade te laat geskied.