Die vraag na water in Suid-Afrika oorskry tans die aanbod, het Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, Woensdag erken.
“Ons moet daardie scenario verander en in die vraag voorsien,” het Mchunu aan LP’s in die Nasionale Raad van Provinsies gesê.
Hy het in ’n debat oor sy departement se begroting bygevoeg dat sy departement weens dié huidige waterkrisis landwyd in Februarie vanjaar ’n beraad gehou het waar ’n “deeglike begrip ontwikkel is oor die water- en sanitasieprobleme en wat op hoë vlak gedoen moet word om die gety te laat draai”.