Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het Dinsdag ingegryp op ’n vergadering met leiers van die oproeriges in Bloemfontein. Daar is op die vergadering ooreengekom dat die kop van die Mangaung-metro se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, moontlik sal rol, soos deur die oproermakers geëis is.
Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het dit bevestig en gesê dat ’n spesiale raadsvergadering Donderdag in Bloemfontein gehou sal word waarop die aangeleentheid oor Mea se skorsing hanteer sal word “omdat dit die raad is wat hom moet verwyder”.
Sello Pietersen, woordvoerder van Ntombela, het in ’n mediaverklaring Dinsdag bevestig dat die premier en haar uitvoerende raad, die verteenwoordigers van Mangaung Community Concern, die Mangaung Business Forum, die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) en die leierskap van die metro vergader het oor die protesaksie van die afgelope twee dae wat veroorsaak het dat strate en winkels in Bloemfontein “gesluit” is.