Die polisie se plan om die register van veral die vuurwapens waarop hy beslag gelê het, te digitaliseer ten einde interne korrupsie in die polisie te bekamp en te keer dat dié vuurwapens weer in die hande van misdadigers beland, is niks meer as krisisbestuur nie.
Die simptome van die probleme in die polisie word op dié manier behandel, maar nie die oorsake nie, sê dr. Johan Burger, gewese polisiegeneraal wat nou aan die Instituut vir Sekerheidstudies verbonde is.
Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag op ’n mediakonferensie in Durban gesê daar is onlangs vasgestel ’n polisielid in KwaZulu-Natal is met ’n R5-aanvalsgeweer doodgeskiet. Dit was in die tyd toe dit bekend geword het 158 vuurwapens – wat R5-aanvalsgewere insluit – is vanuit die Norwood-polisiekantoor in Johannesburg gesteel. Daar is later in ’n ondersoek vasgestel drie senior polisielede was dalk by dié diefstal betrokke.