In ’n jaar waarin pres. Cyril Ramaphosa en die ANC voor die Zondo-kommissie die bitter pil probeer sluk en moes erken die ANC-regering is só deurspek met korrupsie dat dit Suid-Afrika onherstelbaar geknak het, het die kommissie van ondersoek na staatskaping sy sittings voltooi.
Van die opspraakwekkendste getuienis voor die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, sluit in hoe die ANC se diepgewortelde stelsel van kaderontplooiing werk.
Daar was net soveel drama buite as binne die sittings met oudpres. Jacob Zuma wat uiteindelik nié verder voor die kommissie wou getuig het nie, maar wel in die tronk beland het vir minagting van die hof.