Dit is in die openbare belang dat die publiek moet weet hoe die ANC se kaderontplooiingskomitee besluite en aanstellings by staatsentiteite beïnvloed.
Só het adjunkhoofregter Raymond Zondo Vrydag in ’n brief aan die ANC gesê nadat die party gekla het dat die kommissie sonder vooraf waarskuwing notules van sy ontplooiingskomitee openbaar gemaak het.
“Gegewe dat die notules van die ontplooiingskomitee, wat deur die ANC aan die kommissie (teen staatskaping) gegee is, reeds openbaar gemaak is op die kommissie se webtuiste, is daar geen rede om ’n besluit te neem oor of dit openbaar gemaak moet word nie,” het Zondo gesê in ’n brief van prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die Zondo-kommissie, aan die ANC.