Soos die droë blare om ’n ui het hoofregter Raymond Zondo die verduidelikings van pres. Cyril Ramaphosa afgetrek voordat hy by die werklikheid uitgekom het: Ramaphosa het minstens vier jaar lank anderpad gekyk terwyl die land van miljarde besteel en staatsinstellings vernietigend uitgehol is.
In sy getuienis voor Zondo het die regter Ramaphosa op deurslaggewende punte betrap dat die president jakkalsdraaie gooi: Oor oudpres. Jacob Zuma se aandadigheid aan staatskaping; oor wat Ramaphosa sê hy van staatskaping geweet het, wanneer hy dit geweet het en wat hy daaraan gedoen het; oor die redes waarom die ANC geen stappe teen korrupsie in sy geledere doen nie; en selfs Ramaphosa se verduideliking dat hy nie geweet het wie geld bygedra het vir sy presidensiële veldtogfonds by die ANC se Nasrec-konferensie nie.
En as adjunkpresident kon hy heelwat meer gedoen het om die skade te voorkom as om in te gryp toe Zuma vir Nhlanhla Nene in Desember 2015 afdank as minister van finansies en daarmee oornag ’n ineenstorting op finansiële markte veroorsaak.