Oudpres. Jacob Zuma se dringende hofaansoek Dinsdag om sy tronkstraf tydelik af te weer is net nóg ’n poging om ’n “bespotting” van die regbank, die Grondwet en die Suid-Afrikaanse demokrasie te maak.
Dít omdat hy volgens die Helen Suzman-stigting (HSS) weet dat sy ander hangende aansoek in die konstitusionele hof, om sy skuldigbevinding weens minagting van dié hof en die 15 maande tronkstraf te laat heroorweeg en herroep, jare kan duur.
Anton van Dalsen, regsadviseur van die HSS, voer so aan in ’n beëdigde verklaring waarmee dié stigting saam met die Zondo-kommissie Zuma se “doodgebore” dringende aansoek Dinsdagoggend in die hooggeregshof in Pietermaritzburg sal teenstaan.