Suid-Afrikaners het Maandag in die vroeë oggendure met hul kameras na die hemele gemik om die algehele maansverduistering en bloedmaan vas te vang.
Volgens die webwerf Space.com sal ’n algehele maansverduistering twee keer in 2022 voorkom, maar slegs Maandagoggend se verskynsel was vanjaar in Suid-Afrika sigbaar. Benewens dat Maandagoggend se maansverduistering die eerste algehele verduistering van die jaar was, was dit ook die eerste supermaan van die jaar.
’n Supermaan kom voor wanneer die afstand tussen die aarde en die maan minder as 360 000 km is en die maan sy naaste punt aan die aarde in sy eie wentelbaan, die perigeum, bereik, en dus op sy volste vertoon. Die maan vertoon tydens dié verskynsel 14% tot 17% groter en 30% helderder, maar dit is slegs ’n optiese illusie.