Klein kleipotjies met tuitjies aan wat langs babas en kleuters in hul grafte gevind is, wys dit was van die eerste “bababottels” waaruit kinders gedrink het.
Dié houers, waarvan die oudste sowat 7 000 jaar is, het egter nie borsmelk bevat nie, maar die melk van diere, het navorsing gewys. Dit is die eerste bewyse dat prehistoriese babas gespeen of hul dieet aangevul is met die melk van diere.
Mense het nie altyd die melk van diere gedrink en ander suiwelprodukte geniet nie. Dit het eers met die aanvang van landbou toe skape, bokke en beeste mak gemaak is, sowat 12 000 tot 10 000 jaar gelede begin. Gewasse is toe ook vir die eerste keer aangeplant en daar is wegbeweeg van ’n jagter-versamelaar-lewe. So het dorpe en infrastruktuur ook ontstaan, met al die probleme wat daarmee gepaardgaan.