’n Internasionale span sterrekundiges het die MeerKAT-radioteleskoop ingespan om vas te stel hoeveel brandstof nodig is om sterre te vorm soos wat 4 miljard jaar gelede gebeur het.
Aamirah Sonday, woordvoerder van die Universiteit van Kaapstad (UK), sê die navorsers het met dié radioteleskoop in die Noord-Kaap gekyk na neutrale waterstofgas – die algemeenste element in die heelal en die stof waaruit sterre gevorm word – en bevind dat sterrestelsels hul eie brandstofreserwes vir stervorming kan aanvul.
Francesco Sinigaglia, ’n PhD-kandidaat, het die navorsingsprojek onder prof. Giulia Rodighiero, mede-professor van die Universiteit van Padova in Italië; prof. Mattia Vaccari van die UK en die Instituut vir Data-intensiewe Sterrekunde (IDIA), en dr. Ed Elson van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gelei.