Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (Sansa) het Dinsdag sy vennootskap met sy Amerikaanse eweknie, Nasa, met die oog op noue samewerking met die toekomstige verkenning van die buitenste ruimte hernu.
Sansa sê in ’n verklaring die ondertekening is gevolg deur ’n sooispit-seremonie by die diepruimte-grondstasie in Matjiesfontein in die Karoo, wat in die toekoms bystand aan bemande ruimtevlugte na die maan sal lewer.
Die grondstasie, wat sowat 240 km noordoos van Kaapstad geleë is, sal oor ’n kommunikasie-antenna vir deurlopende verbinding tussen ruimtevaarders en die Aarde beskik.