Hoewel die meeste van sy eie kiesers die ANC as korrup beskou, sal hulle weer vir dié party stem of eerder van die stembus af wegbly omdat opposisiepartye dit nie regkry om ANC-kiesers se stemme te werf nie.
So het politieke ontleders Vrydag gesê oor ’n peiling wat onder meer wys verreweg die meeste Suid-Afrikaanse kiesers beskou die ANC as die korrupste van die land se drie grootste politieke partye.
Die navorsing is in aanloop tot die plaaslike verkiesings op 1 November vandeesmaand deur ’n onafhanklike onderneming gedoen in opdrag van Netwerk24 en in samewerking met News24, Rapport en City Press.