Die Verkiesingskommissie (OVK) gaan altesaam R7,2 miljoen aan fumigasie bestee om stemlokale te ontsmet. Die bedrag sluit die koste vir die afgelope registrasienaweek en die komende plaaslike verkiesings in, het die OVK gesê.
Dit is ondanks die gesondheidsdepartement en die Nasionale Instituut vir Beroepsgesondheid (NIOH) wat reeds in 2020 aangedui het dat hulle dit nie beveel nie. Volgens hulle is daar geen wetenskaplike bewyse dat dié fumigasie beskerming teen die koronavirus bied nie.
Die OVK het vroeër in September ’n tender vir die verskaffing van 126 280 kannetjies met ’n spuitkop van 400 ml elk uitgereik. Dit moet ’n afgeslote ruimte van sowat 100 tot 150 m² ontsmet. Wanneer die ontsmettingsmiddel vrygestel word, moet dit nie langer as 15 minute in ’n lokaal hang nie, “maar die effek moet blywend wees om enige bakterie/virus in die vertrek en op oppervlakke te ontsmet”, aldus die spesifikasies.