
Dit was toe nie so moeilik om een aand sonder vleis te bly nie! Probeer nou om meer plantgebaseerde maaltye aan te pak.
Claudine Ryan, ’n geregistreerde dieetkundige in Gqeberha, stel voor jy begin jou veganistiese etes vir die week op ’n Maandag en kies aanvanklik eers weeksdae om veganisme te beoefen omdat jy meer struktuur op werksdae het en ook beter sal kan beplan as oor die naweek.
“Nadat jy ’n paar keer Meatfree Mondays suksesvol aangepak het, raak dit makliker om ’n tweede dag by te voeg en later ’n derde dag in die week te kies om ’n plantgebaseerde dieet te volg,” sê Magda Pieters, ’n geregistreerde dieetkundige in Bellville.
Beplanning is die sleutelwoord
Staan elke week 15 minute daaraan af om jou maaltye vooruit te beplan. Dis wanneer jy wonder oor wat jy kan eet dat jy in die versoeking gaan kom om af te wyk van jou veganistiese voorneme. Fokus eers op jou hoofmaaltyd van die dag, stel Ryan voor.
“Kies ’n paar dae per week wat jy die diereproteïen by aandetes met ’n plantopsie soos soja of peulgroente vervang. Kies elke keer ’n ander plantproteïen om dit interessant te hou. Sodra jy ’n gebalanseerde roetine tussen plant- en diereproteïeninname by jou weeklikse aandetes gevestig het, kan jy begin om permanent oor te skakel na nie-suiwelmelk, veganistiese brood, veganistiese mayonnaise en veganistiese margarien.”
Daarna kan jy aan ontbyt en middagetes begin dink.
“Jy sal dus nou minstens drie dae per week totaal en al veganisties eet. Wissel die dae tussen veganisties eet en nie-veganisties eet af, en sluit ’n wye verskeidenheid kos by jou dieet in. Begin ook etikette nagaan om te leer waarna jy moet kyk.”
Pieters voeg by dat daar deesdae soveel veganistiese geriefskos beskikbaar is, byvoorbeeld veganistiese sojaprodukte, wraps, eierlose pasta, gebak en plantgebaseerde kitskos, dat dit selfs die dinkwerk uit maaltydbeplanning kan haal.
Meer veganisties, meer voordele
Hoe meer jy ’n plantgebaseerde dieet volg en gesonde keuses maak, hoe meer voordele sal jy aan jou liggaam kan begin sien en voel.
“Die grootste voordeel sal beter spysvertering wees, en die ligter gevoel wat daarmee saamgaan,” sê Pieters. “Dermprobleme soos hardlywigheid word dikwels verlig met beter vertering.”
Minder versadigde dierevet word ingeneem, wat op die lang termyn ongesonde LDL-cholesterolvlakke sal laat daal, sê sy. “Dikwels beteken dit ook ’n verlaging in bloeddruk.”
Pieters verduidelik ook dat groente meer goeie vesel bevat wat die dermkanaal help skoonmaak en gifstowwe help uitskei. “Plantaardige produkte verskaf pre- en probiotika, wat gesonde dermflora opbou. Dit verbeter jou immuniteit en help beskerm jou teen siektes. Die gastro-intestinalekanaal (GIK) word dikwels beskryf as die liggaam se ‘tweede brein’ omdat dit so ’n groot rol in die funksionering van verskeie organe speel.”
Volgens ’n onlangse studie wat in die mediese tydskrif Nutrients gepubliseer is, het veganiste ’n unieke dermflora en minder inflammasie as vleiseters, sê Pieters. “Kleurvolle groente, vrugte en plantaardige kos bevat ’n rykdom vitamiene, minerale, fito-chemikalieë en anti-oksidante wat oksidasie teenwerk en jou liggaam beskerm teen vroeë veroudering, chroniese inflammasie, siektes en kanker. Voedingstowwe soos kalium, magnesium, folaat en vitamien A, C en E word ook goed verteenwoordig in groente.”
Hoewel gewigverlies nie ’n volhoubare rede is om veganisties te begin eet nie, meen Pieters jy sal wel ekstra gewig begin afskud indien jy goeie lae GI- en veselryke plantkeuses maak, want jy sal minder kilojoules inneem.
“Jou begroting gaan beslis beter lyk, want vleisprodukte is oor die algemeen duurder opsies.”
Lees volgende week oor wat dit behels om ’n volwaardige veganis te word in die laaste van ’n reeks van vier artikels oor ’n plantgebaseerde dieet en hoe jy dit in Januarie op die proef kan stel. Sien hieronder die eerste en tweede artikels in dié reeks.
Hierdie artikel is geborg deur Checkers. Sou jy veganisme op die proef stel, probeer gerus Checkers se Simple Truth-reeks wat ’n verskeidenheid gesonder en veganistiese produkte insluit.