GEBORG | Ontdekkingsreis begin met Ikateleng

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Ikateleng-projek gee aanvullende onderrig vir gr. 10-, 11- en 12-leerlinge by ses sentrums in vier provinsies en word in samewerking met die departement van onderwys aangebied.
Die Ikateleng-projek gee aanvullende onderrig vir gr. 10-, 11- en 12-leerlinge by ses sentrums in vier provinsies en word in samewerking met die departement van onderwys aangebied.
Foto: VERSKAF

Verandering klop-klop aan die deur, hard genoeg om aandag te trek, maar te sag vir almal om te hoor. Oorkant die grens word die laaste skote van ’n oorlog gevuur. Die vorige bedeling smag na asem, want die wêreld se sanksies wurg. Die media word gemuilband en verraaiers gehalssnoer. Dit is ’n wanklinkende simfonie van chaos en onluste, die dirigente is kleefmyne, briefbomme en wapenbroederskap. Die heersende noodtoestand is neerdrukkend en veglustigheid vier hoogty. Die jeug is in opstand, jongmense soek redes en antwoorde en hulp en ’n uitkoms. Dit was 1988 en die land het gebrand.

Die Vaaldriehoek is nie ongeskaad gelaat nie en in die omliggende gebiede het kinders se opvoeding daaronder gely. Eerwaarde Sello Mussa, ’n township-predikant, het die bestuur van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit, NWU) se Vaaldriehoekkampus genader. Só, kan dit nie aangaan nie, het hy gesê. Ons moet bou.

Hieroor was daar eenstemmigheid en ’n Saterdagskool is vir die naburige townships van stapel gestuur. Die Ikateleng-projek, wat “bemagtig jouself” beteken, het sy eerste tree gegee. Dit is nou 34 jaar later en ’n klein begin het in ’n reuse-sukses ontaard.

Ikateleng gee aanvullende onderrig vir gr. 10-, 11- en 12-leerlinge by ses sentrums in vier provinsies en word in samewerking met die departement van onderwys aangebied. Hierdie sentrums is in Potchefstroom, Vanderbijlpark, Mahikeng, Kimberley, Lichtenburg en Mooinooi.

“Ons oorhoofse doel is om soveel gr. 12-leerlinge as moontlik met universiteitsvrystelling vir ’n Baccalaureus-graad te lewer sodat hulle by enige tersiêre-onderwysinstelling in die land kan gaan studeer. Dit is ’n mikpunt wat ons elke jaar vir onsself stel en een waarop ons elke jaar wil verbeter,” sê Celeste Rossouw, Ikateleng se projekbestuurder.

Die projek fokus veral op wetenskap- en besigheidstrome, asook om leerlinge met loopbaanleiding en universiteitsaansoeke te help. Onderwysers wat vir Ikateleng gekies word, moet aan streng kriteria voldoen, want vir 17 dae (Saterdae en Sondae) is hulle met ’n allemintige verantwoordelikheid getaak.

Die resultate wys hierdie proses werk

Sedert 2013 het Ikateleng-leerlinge se matriekslaagsyfer nooit onder 89% gedaal nie. In 2021 was dit 97%, teenoor die nasionale gemiddelde van 76,4%. Dan het 78% van Ikateleng-leerlinge met Baccalaureus-vrystelling geslaag, teenoor die land se gemiddelde van minder as 40%.

Dieselfde geld vir die Ikateleng-matriekgemiddelde vir wiskunde (52%), rekeningkunde (60%), fisiese wetenskappe (51%) en lewenswetenskappe (65%), wat almal in 2021 hoër as die nasionale gemiddelde was.

’n Deel van die projek se ongekende sukses is toe te skryf aan die hoeveelheid borge en donateurs wat oor die jare by Ikateleng ingekoop het. Hande is gevat en saam is daar ’n nuwe weg vir soveel toekomstige generasies gebaan.

“By die Noordwes-Universiteit glo ons dat elke leerling die geleentheid gegun moet word om hul potensiaal te ontdek en uit te leef, hetsy by die NWU of elders. Dit is ons voorreg en dit is ons plig om die gemeenskap wat ons dien, te bevorder. Ikateleng is ’n belangrike stuk gereedskap wat ons in hierdie taak help,” sê Rossouw.

Meer as 1 500 leerlinge is tans by die Ikateleng-projek ingeskryf. Hul ontdekkingsreis het begin, en met elke tree wat hulle vorentoe gee, bly 1988 verder agter.

Besoek gerus hul Facebook-blad by @NWUNorthWestUniversity of Twitter by @TheNWU.

besig om te laai... Regstreeks
England 84/5
India 416/10
Rand - Dollar
16.50
-1.3%
Rand - Pond
19.96
-1.0%
Rand - Euro
17.21
-1.0%
Rand - Aus dollar
11.24
-1.0%
Rand - Jen
0.12
-1.0%
Goud
1,810.71
0.0%
Silwer
19.89
0.0%
Palladium
1,964.46
0.0%
Platinum
892.00
0.0%
Brent-ruolie
111.63
+2.3%
Top-40
59,640
-0.8%
Alle aandele
65,662
-0.9%
Hulpbronne 10
61,245
-4.1%
Industriële 25
80,264
+1.1%
Finansiële 15
14,564
-0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos