GEBORG | Streektaal steek tong uit

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ATKV se nuwe veldtog, “Hoe proe jou Afrikaans?”, wil wys dat die ATKV almal met ope arms aanvaar. Suid-Afrikaners praat elkeen Afrikaans op hul eie manier, maar tog verenig dit ons. Foto: VERSKAF
Die ATKV se nuwe veldtog, “Hoe proe jou Afrikaans?”, wil wys dat die ATKV almal met ope arms aanvaar. Suid-Afrikaners praat elkeen Afrikaans op hul eie manier, maar tog verenig dit ons. Foto: VERSKAF

Afrikaans se dialekte maak die taal ruimer en kleurvoller; met plek vir ’n ieder en ’n elk om hul sê op hul unieke manier te kan sê ...

Afrikaans is lankal nie meer die kombuistaal van ouds nie. Oor die dekades heen het die jongste taal ter wêreld soos ’n pou sy vere begin sprei en verskeie kleurvariante ten toon gestel.

Vandag praat ons almal Afrikaans op ons eie manier en tog bly ons verenig. Die taal het oor die jare leer tiekiedraai in Namakwaland en leer skoffel in Pretoria; hy skuur met ’n brei in Malmesbury en gee jou met Afrikaaps ’n dwarshou op die Vlakte dat jou ore sing.

Vier Afrikaans se dialekte

Die ATKV het besluit dat die organisasie se veldtog vanjaar die uniekheid van ons taal en al sy dialekte gaan vier. Die nuwe veldtog heet “Hoe proe jou Afrikaans?”.

Volgens Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, is die doel van die veldtog om te wys dat die ATKV almal met ope arms aanvaar. “Ons wil vir almal wys dit maak nie saak watter dialek jy praat nie, jy sal altyd welkom wees by die ATKV. Jy kan Standaardafrikaans of Afrikaaps praat, hier sal altyd ’n plek vir jou wees.”

Die ATKV het sewe uiteenlopende individue van oor die land heen gekry, elk met ’n eie, unieke dialek, om aan die veldtog deel te neem. Die veldtog is by Hollywood Costumes in Krugersdorp deur Taalgenoot se eie Andre Badenhorst geskiet.

“Dit was lekker,” vertel hy. “Almal het goed saamgewerk en die uiteenlopendheid van die dialekte staan mooi uit. Ons het aanvanklik bietjie gesukkel met klank, maar ons het dit gou uitgesorteer. Die eindproduk gaan wonderlik lyk as al die kleure eers bymekaarkom!”

Die sterre van die dag het nie teleurgestel nie en hul beste Afrikaansvoetjie voor gesit.

Francois Kamineth (49), ’n polisieman, bly dalk deesdae in Centurion, maar hy gooi steeds die Baai se Afrikaans. “As ons praat, praat ons nie regtig nie, ons sing,” sê hy trots. Volgens hom is ’n woord soos “boue” eie aan Gqeberha (Port Elizabeth).

“Boue is ’n selfstandige naamwoord. Dit kan enige voorwerp wees. Die snaakse ding is dat as jy praat van ’n boue weet die persoon in die Baai presies van watter voorwerp jy praat.”

Hy sê daar is ’n verskil tussen die Baai se Afrikaans en die Kaap se Afrikaans. “Die Kaap se Afrikaans is platter. Hulle praat van ‘krief’, terwyl ons nog praat van ‘kreef’.”

Hoewel hy al 21 jaar uit die Baai is, praat hy steeds sy eie Afrikaans. “Dit is egter moeilik in ’n plek soos Centurion om my Afrikaans met almal te praat, maar ek praat steeds só met my vriende en familie.”

Aitsa, hoor hoe praat hulle!

Llewellyn Olivier (41), ’n entrepreneur, sê sy Afrikaans in George verskil weer van die Afrikaans wat in die Baai gepraat word. “Die Tuinroete het sy eie dialek wat eie is aan sy mense. Of jy nou op George, Mosselbaai of Plettenbergbaai bly, almal sal jou Afrikaans verstaan.”

Volgens hom is daar heelwat sleng in hul dialek. “Ons hou daarvan om die woord ‘aitsa’ te gebruik. Jonger mense gebruik die woord ‘aya’ aan die einde van ’n sin. Dit is ’n vorm van respek.”

Wanneer hy iemand ontmoet wat dieselfde dialek praat, voel hy dadelik tuis in daardie persoon se geselskap. “Al ken ek die persoon van geen kant af nie, voel dit klaar vir my asof ek hom al jare ken.”

Augusta Zietsman (27), ’n aktrise van Johannesburg, meen die Goudstad se Afrikaans is ’n mengelmoes van verskeie dialekte. Sy is later vanjaar in die kykNET-reeks Dinge van ’n kind, wat gegrond is op Marita van der Vyver se gelyknamige trefferboek, te sien.

“Johannesburg is ’n plek waar mense van verskillende agtergronde bymekaarkom. Dit skep ’n geleentheid vir kruisbestuiwing. Waar hulle in die Kaap praat van ’n ‘entsjie’ (sigaret) sal ons hier praat van ’n ‘gwaai’. Hier tel ons verskillende woorde en dialekte van mekaar op. Jy sal Afrikaapse woorde gebruik of woorde wat jy in Pretoria geleer het. Hier is ons ’n gemeenskap. As jy nie ’n gemeenskap het nie, sal die stad jou opvreet.”

Op Oudtshoorn is daar meer as net volstruise. Daar praat die mense ’n Afrikaans wat jy dalk nog nie gehoor het nie.

“My Afrikaans moet jy voel om te verstaan,” sê Deirdré Jantjies, ’n rolprentmaker en aktivis. “Die brei in my taal skep ’n atmosfeer wat uniek is. Die sleng is deel van ons kultuur. Die manier hoe jy jouself uitdruk, vorm deel van die taal. Hoe meer energiek jy kan wees, hoe beter.”

Ook haar dialek het woorde wat eie daaraan is. “‘Wana’ verwys na ’n persoon. Jy sal sê: ‘Jong, het jy daai wana gesien wat hier verby geloep het?’ Ons is ook gewoond daaraan om ‘aitsa’ te gebruik, wat eintlik ’n Nama-woord is.”

Van Stellies tot “Protoria”

Al praat Marli van Eeden (27) Engels op die luggolwe as ’n radio-aanbieder het sy as ’n Stellenbosser ’n manier om Afrikaans te laat rek en trek.

“Die vreemdste ding vir my toe ek noorde toe getrek het, was hoe mense oorrond. Hulle sal ‘môre’ sê terwyl ons ‘more’ sê. Die ‘ê’ kom ook baie voor, soos in hêk, spêk en êk.”

Die verskil tussen naamwoorde in Stellenbosch en in die noorde was ook vir haar opvallend.

“Daar praat ons van ’n stokkielekker en hier praat hulle van ’n suigstokkie. Almal sal ook verwys na kouse, maar vir my is daar ’n verskil tussen kouse en sokkies. Sokkies is kort en jy dra dit saam met jou tekkies. Kouse is vir my soos sykouse.”

Ted October (30), wat werk by die ATKV se hoofkantoor in Randburg, is oorspronklik van die Weskus. Sy Afrikaans rangeer soos treine en die meeste mense sal bekend wees met sy Malmesbury-brei.

“Ons praat ’n soort plat Afrikaans. ’n Naam soos ‘Chelene’ sal ons uitspreek as ‘Salene’. ‘Tet’ in plaas van ‘Ted’ en iets soos ‘kerrie’ word uitgespreek as ‘kêgrie’.”

Vir hom herinner sy dialek hom aan heerlike snoek op die kole. “Ons is vis-mense. Ons hou van ons ‘kriewe’ en ons bokkoms; ’n ‘potsjie’ [uitgespreek soos entsjie] is ook altyd lekker. Soos wat Brasse Vannie Kaap altyd gesing het, ‘roer daai potsjie’.”

Die 17-jarige Sias Smith van Garsfontein in Pretoria is van mening dat Pretorianers nie so baie oorrond nie, en dat hierdie eienskap oordryf word. “Ja, ons oorrond seker meer as die Kapenaars, maar dit is nie so erg nie. Ek dink ons dialek het wel verander toe die Voortrekkers noord getrek het. Die Afrikaans in Pretoria is meer formeel.

“Ons is nogal lief daarvoor om woorde uit te rek. Soos byvoorbeeld: ‘Ek gaaan winkel toe.’ Dit is snaaks. As jy in Pretoria grootgeword het, kom jy dit nie agter nie, maar mense van elders tel maklik ons manier van Afrikaans praat op. Ek is al so gewoond daaraan om so te praat.”

besig om te laai... Regstreeks
West Indies 408/10
Bangladesh 234/10 & 129/6
besig om te laai... Regstreeks
England 360/10 & 183/2
New Zealand 329/10 & 326/10
Rand - Dollar
15.80
+1.1%
Rand - Pond
19.38
+0.1%
Rand - Euro
16.67
+0.1%
Rand - Aus dollar
10.96
+0.1%
Rand - Jen
0.12
-0.1%
Goud
1,827.37
0.0%
Silwer
21.15
0.0%
Palladium
1,880.50
0.0%
Platinum
911.50
0.0%
Brent-ruolie
113.12
+2.7%
Top-40
59,993
+1.6%
Alle aandele
66,349
+1.6%
Hulpbronne 10
64,422
-0.2%
Industriële 25
76,590
+2.6%
Finansiële 15
15,623
+1.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos