GEBORG | Van klein gemeenskap tot NWU-suksesverhaal

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Toto Tshona is een van NWU se suksesverhale met sy doktorsgraad in wiskunde-onderwys. Foto: VERSKAF
Toto Tshona is een van NWU se suksesverhale met sy doktorsgraad in wiskunde-onderwys. Foto: VERSKAF

Sy het gedans, gesing en gebid. Vir ’n paar oomblikke het die hele Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en al die geluk in die wêreld aan Ntombizanele Beauty Tshona behoort. Want, op ’n Donderdagoggend waar die winterson met speelse genot deur rye wattelbome geglimlag het, het die 38-jarige Toto Tshona sy doktorsgraad in wiskunde-onderwys van die fakulteit opvoedkunde ontvang.

Toto, wat nie wiskunde in matriek by die Borakanelo Sekondêre Skool in die klein gemeenskap van Khuma buite Stilfontein kon slaag nie. Hy wat steeds met die tatoeëermerke van sy bendeverlede op sy vel rondloop. Wat ’n stalletjie in Khuma bedryf het om vir ’n jong familie te sorg. Wat R50 vir aandklasse bymekaar geskraap het terwyl geweld en armoede om hom hoogty vier. Wat sy punte verbeter het en met ’n beurs toelating tot die NWU gekry het. Wat op die ouderdom van 24 begin studeer het en tot dosent by die Skool vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie vir Onderwys gevorder het. Toto, haar seun. Toto, Ntombizanele se trots.

“My ma was uit haar vel van vreugde. Sy was ekstaties. Ek dink ek het my wiskundebrein by haar gekry,” vertel hy in die konferensiekantoor van gebou B10, sy tuiste weg van die huis af.

“My ma beteken so baie vir my. Sy is ’n enkelma wat in Rustenburg gewerk het. Ek het in die strate van Khuma grootgeword en het nie ’n pa gehad nie. Ek het hom nog nooit in my lewe gesien nie.”

Khuma se berugte West Side-bende het hom wel baie goed dopgehou en hulle het hom in hulle geledere opgeneem. ’n Gewillige toevoeging tot hul kultuur van misdrywe. Die West Sides het egter spoedig besef dat Toto nie by hulle hoort nie. “Hulle het iets in my raakgesien. Hulle het toe my skoolgeld betaal en selfs vir my sokkerstewels betaal. Daar is vir my gesê: ‘Jong man, moenie soos ons wees nie. Wees versigtig. Kyk na jou boeke.’”

Dít het hy gedoen. In Khuma het hy ook jongmense in die gemeenskap met skoolwerk gehelp – ’n taak wat hy steeds voortsit. “Ek bly ook in Khuma. Dit is waar ek vandaan kom. Ek het ’n plig om ’n verskil daar te maak.”

By die NWU is sy vinnige opwaartse kurwe deur prof. Hercules Nieuwoudt – ook promotor van Toto se doktorsgraad – raakgesien, en hy het ’n mentor gevind. “Jy gaan nog eendag in my stoel sit,” het Nieuwoudt vir hom gesê. ’n Waarseêr, prof. Niewoudt. Tien raaie waar daai stoel vandag staan . . .

In 2018 het Toto met sy geliefde Brenda, wat toe reeds 15 jaar lank aan sy sy was, getrou. Wanneer hy oor sy drie spruite, Thandiwe, Botshelo en Simthandile, gesels, trek sy mondhoeke tot onder sy ore op. Hy het homself belowe hy gaan die pa wees wat sy pa nie was nie.

Dit is Toto. Toto wat gewys het dat die noodlot nie kant kies nie. Dat deursettingsvermoë deurslaggewend is. Dat potensiaal soms net ’n kans nodig het om te groei. Anthon Makhaya Tshona, nie net Ntombizanele se trots nie. Khuma s’n ook.

Rand - Dollar
17.93
-1.8%
Rand - Pond
19.45
-0.0%
Rand - Euro
17.37
-0.0%
Rand - Aus dollar
11.70
-0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.0%
Goud
1,643.66
0.0%
Silwer
18.87
0.0%
Palladium
2,073.00
0.0%
Platinum
858.50
0.0%
Brent-ruolie
86.15
-5.0%
Top-40
57,110
-3.1%
Alle aandele
63,417
-2.9%
Hulpbronne 10
56,319
-7.5%
Industriële 25
78,436
-1.2%
Finansiële 15
14,142
-1.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos