Afrikaanse digkuns meer as net poësie

akkreditasie
Gedigte dateer terug uit die vroeër jaar maar het vandag steeds ’n positiewe uitwerking op een en elk.Foto: Natalie Gabriels

Op Saterdag 14 Augustus word Afrikaanse Taaldag gevier om die ryk geskiedenis van die taal te herdenk.

Verskeie van ons ken vroeë Afrikaanse gedigte soos Eugène Marais se “Winternag” (1905) of Jan F. Celliers se “Dis al” (1908).

Jonger lesers van die Afrikaanse digkuns ken waarskynlik ook verskeie gedigte wat die afgelope dekades gepubliseer is. Terloops, hoeveel Afrikaanse digbundels het nie in die jongste tyd die lig gesien nie! Vanaf “Winternag” (die eerste literêr-volwaardige Afrikaanse gedig) tot en met vandag presteer die Afrikaanse digkuns op ’n bykans ongeëwenaarde wyse.

Wanneer ons vandag ’n gedig soos “Winternag” lees, gryp dit ons steeds aan die hart. Ons voel steeds diep geroer, ondanks die feit dat “Winternag” reeds meer as ’n eeu gelede gepubliseer is. Vandag is dit steeds ’n boeiende vraag waarom gedigte (of, om die net wyer te span, ook bekende Afrikaanse romans en dramas) ons steeds aangryp. Wat gebeur wanneer ’n Afrikaanse gedig, roman of drama ons diep roer?

’n Vanselfsprekende (maar tegelyk onvolledige) antwoord hierop is dat literêre werke met ons emosies praat. ’n Gedig spreek die emosionele kant van ons menswees aan, word daar gesê. Gedigte raak ons harte. As sodanig verskil ’n gedig van ’n wetenskaplike formule. ’n Wetenskaplike formule doen eerder ’n beroep op ons verstand. Wetenskaplike formules laat ons emosioneel koud, maar dit verryk ons verstandelik. So word daar dikwels geredeneer.

Hierin lê heelwat waarheid opgesluit. Elkeen van ons kan daarvan getuig. Nogtans moet dit gekwalifiseer word. Alvorens ons by ’n belangrike kwessie stilstaan, moet genoem word dat die teenoorstelling tussen ’n gedig en ’n wetenskaplike formule, tussen hart en kop, sake vereenvoudig. Met hierdie onderskeid word nog nie die volle verhaal vertel nie. Gedigte hoef nie net ’n saak van die hart te wees nie. Gedigte kan ook ’n aanspraak op ons verstand maak. “Winternag” daag ons verstandelik uit om onder meer oor die verskrikking van die dood na te dink.

Gedigte, romans en drama is literêre werke wat gewoonlik met ons emosies praat.

Uitwerking op jou

Aan die ander kant het wetenskaplike formules nie net betrekking op ons verstand nie. Nuwe wetenskaplike formules kan selfs die mees rasionele en nugtere op ’n emosionele wyse wegvoer. Enigeen wat die geskiedenis van wetenskaplike kennis volg, sal weet met watter emosionele opwinding die ontdekking van nuwe kennis dikwels gepaard gaan. Hart en verstand kan nie so maklik van mekaar geskei word nie.

Maar goed, dit daar gelaat. Ek wil eintlik ’n ander antwoord op bogenoemde vraag (“waarom raak ’n Afrikaanse gedig, roman of drama ons diep?”) gee. As ons dieper kyk, handel die antwoord nie in die eerste plek oor die kwessie van hart of verstand, emosies of rasionaliteit nie. As ons die vraag effens anders formuleer, kan duideliker blyk wat ek in gedagte het. Die vraag is: “Wat gebeur wanneer ons ’n goeie Afrikaanse gedig, roman of drama lees?” Die antwoord hierop kan soos volg geformuleer word: Wanneer ons ’n Afrikaanse gedig soos “Winternag” lees, word (om dit effens vreemd te formuleer) die “Afrikaanse werklikheid” self daarmee oopgemaak. Geleerdes verwys na dié gebeure ook as ’n “onthulling”. In en deur “Winternag” word die Afrikaanse werklikheid self onthul.

In ander woorde geformuleer: Met ’n gedig soos “Winternag” tree ’n Afrikaanse werklikheid na vore – dit is ’n werklikheid wat deur unieke kleure, leefstyle, tradisies, denkpatrone en godsdienstige opvattinge gekenmerk word. Kortom, deur middel van so ’n gedig word iets onthul van wie en wat ons is, van die aard en wese van ons eie wêreld. Die unieke aard hiervan kan nie genoeg beklemtoon word nie. “Winternag” kan uiteraard in enige ander taal vertaal word. Iets wesenliks gaan egter met elke vertaling verlore, naamlik die unieke aard en wese van ons eie Afrikaanse werklikheid. Geen vertaling kan dit so “onthul” as juis die Afrikaanse gedig self nie.

In “Winternag” word die koue landskap (“O koud is die windjie en skraal…”) gebruik om verskillende aspekte van ons psigiese en geestelike ervaring – sowel die donker as die hoopgewende kante daarvan – op ’n unieke wyse aan die woord te stel. Hoe vertaal ’n mens die laaste strofe: “In elk’ grashalm se vou blink ’n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou”? Ons weet bykans intuïtief dat dit ’n dieper kant van ons ervaringswerklikheid ontsluit. Geen vertaling kan dit vasvang nie.

Taaldood

Wat gebeur as ’n taal sterf? Teen die agtergrond van hierdie enkele notas oor die onthullende werking van gedigte kan ons só op hierdie ietwat weersinwekkende vraag antwoord. As dit so is dat die werklikheid by wyse van taaluitdrukkings soos gedigte oopgemaak word, is dit ook so dat die werklikheid met die dood van ’n taal eweneens toegemaak word. Met die dood van ’n taal sterf ’n werklikheid.

Taaldood gaan met ander woorde nie net met die verlies van nog ’n taal uit die groot skat van tale (tans nog meer as 6 000 tale wêreldwyd) gepaard nie. Taaldood gaan met werklikheidsverlies gepaard. Met die afsterwe van ’n taal word die werklikheid self in sy volle kleur, glorie en volheid verminder. Laasgenoemde gebeur selfs hier in ons eie wêreld. Met die tragiese afsterwe van ’n unieke Khoi-San-taal soos die N / uu-taal word die aantal Khoi-San-tale nie net verminder nie. Volgens mediaberigte word N / uu tans nog slegs deur enkele bejaardes gepraat. Met die komende dood van N / uu sal ’n unieke werklikheid met sy sonderlinge klanke, kleure en leefstyle tot ’n einde kom. So word ons almal armer. Ook diegene wat nog nooit van die N / uu-taal gehoor het nie. Voortaan sal ons wêreld deur ’n mindere rykheid aan werklikheid gekenmerk word.

Hoe kan daar gesorg word dat Afrikaans nie net voortbestaan nie, maar dat dit steeds op ’n unieke, skeppende en diepgaande wyse gestalte aan ons werklikheid gee? Hoe kan daar gesorg word dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal ontsluit word?

Deur Afrikaanse onderrig op skool en universiteit te ondersteun word Afrikaans in staat gestel om die volle diepte, kleur en rykheid van die Afrikaanse werklikheid te onthul.

Akademia se mening

Hierdie vrae is ook vir Akademia van belang. Wat ons nog nie hierbo gesê het nie, is dat die ontsluiting van ons werklikheid nie net in die letterkunde gebeur nie. Ontsluiting gebeur ook in die akademiese taal. Om dit so te formuleer: in en deur Afrikaans as universitêre taal word ’n besondere dieptedimensie van ons Afrikaanse werklikheid onthul. Indien Afrikaans as universitêre taal tot ’n einde sou kom, sou ons werklikheid verskraal word. Ons werklikheid sou voortaan sonder hierdie besondere dieptedimensie (dinge soos die akademiese denke, rasionele gesprek, die goeie argument, navorsing en die soeke na die waarheid) gekenmerk word.

Positief geformuleer: In die mate waarin Akademia vandag die ruimte skep waarbinne Afrikaans as akademiese taal gekultiveer en uitgebou word, skep dit tegelykertyd die ruimte waarbinne genoemde dieptedimensies van die Afrikaanse werklikheid steeds ontsluit kan word.

So sorg Akademia dat ons werklikheid nie vervlak en dit uiteindelik sy volle aantrekkingskrag (ook vir die denkende Afrikaanssprekende) verloor nie. Nee, dit sorg daarvoor dat ons werklikheid steeds verryk, gekleur en uitgebou word by wyse van, onder meer, die akademiese denke, die goeie argument, navorsing en die eeue-oue soeke na die waarheid.

Goed, dit bring ons ten slotte weer by bogenoemde vraag: “Hoe kan daar gesorg word dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal ontsluit word?”

Ons is almal bewus van die talle voorwaardes wat aanwesig moet wees vir tale om steeds lewende tale te kan wees. Ondanks die oorbekendheid daarvan, sluit ons met die opmerking dat moedertaalonderrig gewis een van die heel belangrikste voorwaardes is. Soos wat die afgelope jare gereeld deur geleerdes aangevoer word, word die belangrikheid van moedertaalonderrig vir “kognitiewe ontwikkeling” dubbel en dwars deur navorsing bevestig.

Sonder moedertaalonderrig verskraal tale en word hul vermoë om die werklikheid te ontsluit verminder. Met goeie moedertaalonderrig daarenteen gebeur die teenoorgestelde: deur Afrikaanse onderrig op skool en universiteit te ondersteun word Afrikaans in staat gestel om die volle diepte, kleur en rykheid van die Afrikaanse werklikheid te onthul. Op Afrikaanse Taaldag vier ons hierdie diepte, kleur en rykdom wat Afrikaans ons gee.

  • Prof. Danie Goosen, is die akademiese hoof by Akademia.


GEBORG

AfriForum Teater

Die AfriForum Teater in Menlopark, Pretoria, bied ’n tuiste waar die Afrikaanse kunste volhoubaar kan voortbestaan en floreer. ’n Groot verskeidenheid Afrikaanse produksies, vertonings en gemeenskaps- en skoolkultuurgeleenthede word hier aangebied. Die teater het in die volgende maande ’n vol program wat iets vir almal bied: Amanda Strydom, Reynardt Hugo, Jannie du Toit, Frank Opperman, Ivan Roux en Dewald Wasserfall, die kinderproduksies Tjominis met die sanger Sorina (die Flooze), asook ’n klassieke uitvoering deur Laura Pauna en Waldo Alexander.

Besoek gerus www.afriforumteater.co.za vir die program of om kaartjies te koop. Klik hier om hul Facebook-blad te volg.

SA Akademie

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is ’n nieregeringsliggaam wat die beoefening van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste bevorder. Hulle fokus ook op die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans, die enigste inheemse taal uit Afrika wat in die 20ste eeu tot ’n volwaardige wetenskapstaal ontwikkel het. Die Taalkommissie van die SA Akademie is reeds vir meer as 100 jaar verantwoordelik vir die normering van Afrikaans met die samestelling van die gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls. Die SA Akademie is bekend vir die gereelde toekenning van literêre pryse soos die gesogte Hertzog-prys en ander prestigepryse soos die MT Steyn-prys en die Eugène Marais-prys, talle publikasies en ook vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur lede van die SA Akademie opgestel en gepubliseer is.

Vir meer inligting stuur e-pos aan akademie@akademie.co.za. Volg ook hul Facebook, Twitter en Instagram vir meer inligting.

GHA

Danksy die samewerking van die Voortrekkermonument, FAK, ATKV Centurion-tak en Musiekforum, is die GHA in staat om Taaldag by die Voortrekkermonument op Saterdag 14 Augustus 2021 aan te bied. Bring asseblief vriende, familie, kampstoele en ’n piekniekmandjie saam. Die hekke open 08:00 en sluit om 16:00. ’n Donasie van R20 per motor is betaalbaar by die hekke. Gewoonlik word R100 per persoon toegang gevra vir besoekers aan die Voortrekkermonument en ander besienswaardighede, maar op Taaldag sal dit slegs R50 per volwassene wees. Almal onder 20 kry gratis toegang. Persone wat die onthulling van die plaat vir die Afrikaanse lied om 11:00, en die gedenkuitvoering in die FAK-Liedjietuin om 13:00 wil bywoon, bespreek plek by Claudine Boshoff op 081 250 5060 of stuur e-pos na gha@afrikaans.org.za.

Die GHA het reeds verskeie geleenthede by die Voortrekkermonument gereël soos byvoorbeeld die PRETORIA150-fees in 2005, die Jan van Riebeeck-fees in 2012, en die Groot Trek 175-feesviering in 2013. Destyds het hulle in samewerking met die BCVO Die Lange Hoop vir vyf agtereenvolgende aande in die Senotaafsaal op die planke gebring. Klik hier vir meer inligting op hul Facebook-blad.

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 0
Pakistan 188/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.10
-1.0%
Rand - Pond
21.32
+0.2%
Rand - Euro
18.21
+0.3%
Rand - Aus dollar
11.28
+0.2%
Rand - Jen
0.14
+0.3%
Goud
1,783.48
0.0%
Silwer
22.55
0.0%
Palladium
1,816.00
0.0%
Platinum
936.31
0.0%
Brent-ruolie
69.88
+0.3%
Top-40
64,307
-0.4%
Alle aandele
70,808
-0.3%
Hulpbronne 10
66,503
-1.6%
Industriële 25
93,791
+0.1%
Finansiële 15
13,982
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos