Kompetisie lok individue wat verskil maak

akkreditasie
Gert Coetzee is Volksblad-redakteur by Netwerk24.

“Wat ’n blitsige en blink 40 jaar van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie was dit nie,” skryf Gert Coetzee, Volksblad-redakteur by Netwerk24.

Oral druk die deelnemers sedert 1981 as volwaardige ambassadeurs van die kompetisie hul stempel af.

Netwerk24 en Volksblad is trots en dankbaar om as deel van sy vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat (UV) terug te kyk na die welslae van die kompetisie wat gehou word om topstudente na die UV te bring.

Die kompetisie is in 2020 weens die koronavirus afgestel, maar vanjaar word die 40-tal met inagneming van veiligheidsmaatreëls aangeteken.

Verskeie borge het deur die jare dié vennootskap tussen die UV en Volksblad ondersteun, waaronder banke, ouditeursfirmas en ander sakelui in Volksblad se lesersgebied, asook later die huidige hoofborg – Kovsie Alumni-trust. Die trust lewer sedert 2000 ’n reusebydrae tot die prysgeld van die kompetisie.

Die kompetisie, wat aanvanklik net vir meisies aangebied is, het in 1997 verander om seuns ook as deelnemers toe te laat. In 2003 is drie kandidate uit voorheen benadeelde skole tot die topgroep verwelkom.

Sedert 2006 neem 14 finaliste aan die eindronde deel.

Wenners het oor die jare heen hul plek in die samelewing met onderskeiding volgestaan. Uitmuntende naskoolse prestasies is behaal – nie net deur die wenners nie, maar ook deur finaliste.

Hennie van Deventer is ’n oudredakteur van Volksblad en stigter van die oorspronklike kompetisie.

Boompie bloei nog ná 40 jaar

Hennie van Deventer, ’n voormalige redakteur van Volksblad, onthou hoe dit gekom het dat hy voorgestel het dat ’n kompetisie, destyds net vir matriekmeisies, aangebied word.

“In snerpende koue het ek, op ’n Sabbatsjaar aan die Harvard-Universiteit, een aand in ons kelderwoonstelletjie in Cambridge, Massachusetts, op die klein swart-wit-TV rondgekarring.

“ ’n Wedstryd vir ’n Mej. Junior VSA het my aandag getrek. Dit was verfrissend anders. Die kandidate uit die onderskeie state moes nie net fraai lyk en liefies kon glimlag nie. Hulle moes op die skerm ook duursamer kwaliteite uithaal en wys – sing, skilder, voordra of viool speel. Enigiets. Hulle moes slim wees, in sport hul merk maak en leiers wees. Dié opset het by my aanklank gevind.

“Die idee is ‘vir eendag’ in my agterkop geliasseer. Daardie ‘eendag’ het gouer aangebreek as verwag. Toe ek in 1980 redakteur van Volksblad word, was gemeenskapsbetrokkenheid hoog op my agenda. Twee nuwe promosies is aangepak: die Matrieknooiwedstryd (later ook vir seuns oopgestel) en die gewilde Kunsmark.

“Die Vrystaatse Universiteit was opgewonde toe ek my (Amerikaanse) idee daar aandra. Bankovs (later Volkskas) en ander borge het aan boord gekom. Ons sou as vennote saamspan om jaarliks tien veelfasettige toppresteerders uit te sif. Inskrywings het van oral ingestroom. Aanloklike studiebeurse was die wortel. In die 1990’s het die wenner selfs in ’n droomkarretjie weggery – ’n Golfie geskenk deur Phoenix Motors.

“Dat daardie boompie wat ons in 1981 geplant het, ná 40 jaar steeds bloei, getuig seker dat die wortels gesond gevestig is.

“My eer en dank aan die res van die span boompieplanters, en eer en dank aan diegene wat die boompie in latere jare natgelei en so sorgsaam vertroetel het. Wat ’n sieraad is dit nie steeds nie – al vaar dit nou onder ’n ander vaandel.”

Prof. Francis Petersen is die rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

‘Wêreld het sulke mense nodig’

Verlede jaar se teëspoed mag nooit uitmuntende jong mense se gees blus om aan te hou streef na die hoogste sport nie.

So sê prof. Francis Petersen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

“Die Matrikulant van die Jaar-kompetisie beloon uitnemendheid X en dit is ’n eienskap wat waarde tot enige instansie byvoeg. Om hierdie toppresteerders na die universiteit te lok, kan net tot ons voordeel strek, want die hele wêreld het sulke mense nodig.”

Volgens Petersen is hierdie projek een van die UV se vlagskipkompetisies.

“Dit is uniek in sy soort en maak ’n waardevolle bydrae tot die universiteit se strewe om uitnemendheid onder voornemende studente te inspireer en te ontwikkel. Daarom sal die kompetisie sy plek in die universiteit se kalender bly vol staan.

“Ons vorige wenners, finaliste en deelnemers het jaar ná jaar hul plek op kampus volgestaan. Hul name het opgeduik op die huiskomitees, die studenteraad, ons sportspanne, sowel as in kultuurbedrywighede,” sê Petersen.

“Talle Dux-leerlinge van die universiteit kom uit hul geledere en selfs ’n paar jool- en skoonheidskoninginne. Van hulle beklee vandag topposte in Suid-Afrika en interna­sionaal in die sakewêreld. Ander het ons land op die sportveld verteenwoordig.

“Die kompetisie lok jaarliks meer as 100 toppresteerders van oor die land heen. Ons kan dus aanvaar dat daar al sowat 4 000 uit hul geledere hier studeer het.”

Petersen sê die UV sien uit na vanjaar se inskrywings, veral omdat hierdie prestasies behaal is in die onsekere tye van Covid-19 en die beperkings wat daar in die skole was.

Inskrywings vir die kompetisie het Vrydag gesluit.

Vir meer inligting oor die UV, besoek https://www.ufs.ac.za of stuur e-pos aan Linda Greyling na grey­linl­@ufs.ac.za.

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 201/3
Sri Lanka 397/10
Rand - Dollar
16.09
+0.4%
Rand - Pond
20.03
-0.6%
Rand - Euro
16.83
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.28
-0.2%
Rand - Jen
0.12
+0.7%
Goud
1,824.12
+0.0%
Silwer
21.61
-0.0%
Palladium
2,013.50
-0.7%
Platinum
940.55
-0.6%
Brent-ruolie
114.24
+2.6%
Top-40
63,238
+1.2%
Alle aandele
69,996
+1.1%
Hulpbronne 10
72,464
+0.9%
Industriële 25
78,358
+1.6%
Finansiële 15
16,043
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos