Nadat die 40ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie verlede jaar weens die Covid-19-pandemie nie kon plaasvind nie, tel dié kompetisie, wat al vier dekades oud is, vanjaar sy kop op om dit weer vir 25 veelsydige matrikulante net ’n bietjie makliker te maak om hul akademiese drome te verwesenlik.
Danksy die borge Kovsie Alumni-trust, Absa, Pick n Pay Preller Walk, Mazars en UV Studentewerwing is prysgeld en beurse ter waarde van meer as R380 000 op die spel.
Dié kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad moet weliswaar vanjaar op ’n heelwat kleiner skaal as in die verlede aangebied word, maar moeite word steeds gedoen om dit spesiaal te maak vir die 14 finaliste wat van oor die land heen hier gaan saamtrek.
Hoewel net die 14 topfinaliste van 5 tot 7 Oktober in die Tsogo Southern Sun Bloemfontein-hotel byeen kom vir die finale beoordeling, ontvang die ander 11 semifinaliste ook beurse en prysgeld sodra hulle in 2022 aan die UV geregistreer het.
Benewens individuele onderhoude met die paneel beoordelaars, beloof die groepsessies – onderhewig aan streng Covid-19-maatreëls – om ook pret te verskaf. Die groep gaan ’n bedrywige twee dae hê waarin die ses beoordelaars onder leiding van Esmé Aucamp van die Kovsie Alumni-trust hulle behoorlik gaan leer ken.
Die beoordeling sal natuurlik onder toesig van die kompetisie se amptelike ouditeurs, Mazars, plaasvind. Die eerste ronde beoordeling is noukeurig nagegaan voordat die topgroep bekend gemaak is.
Dertien van die 14 finaliste van 2019 gaan onder leiding van Pieter Hoogenboezem, daardie jaar se wenner en ook die vonkelpersoonlikheid, gedurende die twee dae saam met die finaliste kuier en inligting en wenke met hulle deel oor die studentelewe en hul voorgenome studie.
Hierdie interaksie tydens die jaarlikse eindronde word dikwels uitgesonder as die hoogtepunt van die deelname aan die kompetisie, omdat die nuwe eerstejaars dan minder vreemd voel wanneer hulle die volgende jaar op die kampus aanland.