Vind só die wa van jou veldry-drome

akkreditasie
Boswaens het vandag met volledig toegeruste kombuise. Stofdigting is van die belangrikste items waarna jy moet oplet as jy ’n gebruikte waentjie wil aanskaf. Foto: Afrispoor

Die afgelope dekade het die mark vir boswaens ongekend gegroei. Plaaslike verskaffers hoef geen tree vir oorsese handelsmerke terug te staan nie, en die voertuie is vandag Afrika-gehard en vyfster gerieflik.

Sou jy oorweeg om ’n nuwe boswa aan te skaf, is daar enkele dinge om te oorweeg.

Begroting is altyd die deurslaggewende faktor. Met meer geld, kan jy veel meer tierlantyntjies bekostig. Besluit egter vooraf hoe baie jy op jou nuwe boswa wil bestee, en soek dan binne jou prysklas na die beste pasmaat vir jou voertuig.

Hierna moet jy besluit waar jy dit wil gebruik, en saam met dit ook hoe lank op ’n toer dit vir jou ’n huis moet wees. Knoppiesbande lyk windmaker op ’n boswa, maar aangesien dit net gesleep word, is dit net ’n ekstra bykomstigheid.

Belangriker is dat jou boswa goeie grondvryhoogte moet hê sou jy beplan om rowwe roetes aan te pak, of tweespoorpaadjies gaan ry waar die middelman hoog kan staan.

Is die boswa groter, kan jy ook kyk na sy stutvoete (is dit sterk genoeg, met ’n breë voet?) en vering. ’n Volgelaaide boswa kan die skaal goed besig hou. ’n Gebreekte stuk vering in die veld kan jou toer in ’n oogwink in ’n nagmerrie verander.

Sommige gesinne stel gerief ook voorop. Dit klink dalk na ’n lawwe bykomstigheid, maar as gerief belangrik is, maak seker dat jou boswa bied waarna jy soek: elektrisiteit, ekstra ligte, yskas, stoof, wasbak en stort. ’n Ingerigte kombuis, slaapplek en uittrek-skadunet is nog items om in gedagte te hou. Plus ’n spaarwiel.

’n Groot afdak wat met 'mure' toegemaak kan word, bied nie net ekstra privaatheid nie, dit skep ook meer slaap- en woonplek binne jou tenthuis.

Koop tweedehands

Vervaardigers werk tans dat dit klap om in die vraag na bossleepwaens te voorsien, maar stygende pryse het gemaak dat al hoe meer mense ook na tweedehandse boswaens kyk om die wa van hul veldry-drome te vind.

As jou begroting so knap is soos ’n Super15-cheerleader se pakkie, óf as jy nie wil wag om ’n bossleepwa te haak nie, is daar hoop.

Hier’s ’n paar wenke as jy tweedehands koop.

Hoe oud is jy?

Kyk na die jaarmodel. Wanneer is dit vervaardig? Wat was die oorspronklike koopsom (bel ’n handelaar as jy twyfel).

Jong, iets lyk nie reg nie . . .

Eerste indrukke tel. Kyk hoe lyk die waentjie: Is daar roes? Is die verf op die bakwerk beskadig? As jy nie met die eerste oogopslag van die waentjie hou nie, moenie dit koop nie.

Vertel my iets van jou vakansie

Waarheen is dié waentjie al gesleep? Die meeste verkopers beweer hulle het hul boswa net een of twee keer gebruik en die res van die tyd het dit onder ’n seil in die motorhuis gestaan. Vat dit met ’n knippie sout: Dis basies dieselfde storie as die een van die ou tannie wat net Sondae kerk toe gery het met haar motor.

Wanneer laas was jy by die dokter?

Baie mense dink dit is nie nodig om ’n waentjie te versien nie omdat dit net “een of twee keer” gebruik is. Verkeerd. ’n Waentjie moet dadelik ná ’n reis gediens word.

Koeëllaers op ’n sleepwa behoort elke 18 maande vervang te word.

Maak seker jou sleepvoertuig kan jou grootte boswa met gemak sleep, veral as jy rowwe terrein gaan aandurf.

Sak, Sarel!

Die onderstel is waarskynlik die belangrikste komponent van ’n woonwa of sleepwa. Klim maar onder die waentjie in en bekyk dinge van nader.

As die wa se as gebuig is, is dit waarskynlik omdat dit in ’n stadium oorlaai is, óf dit het te vinnig oor slaggate of op veldpaaie gery. Kyk ook na die bande: ’n Gebuigde as veroorsaak dat die bande skeef afloop, gewoonlik aan die binnekant.

Kyk veral na waar die onderstel aan die bak geheg word. As daar ’n knak of ’n duik is, is dit waarskynlik skade weens spoed of oorlading.

Laastens: Kyk of die A-raam, of “disselboom” soos ons dit meestal noem, gebuig of gekraak is. Streskrake kan meestal slegs met spesiale toerusting opgespoor word. As jy twyfel, neem die sleepwa na ’n werkwinkel wat ’n spesiale verf gebruik om die krakies te wys.

Werk dié ding se ‘heupe’?

Toets die skokbrekers en kyk na die toestand daarvan. ’n Veldwoonwa of -sleepwa se skokbrekers behoort elke 15 000 km vervang te word, want hulle werk harder as ’n motor s’n.

As die waentjie baie grondpad gery het, sal jy op die skokbrekers en ander plekke kan sien waar die klippies vasgeslaan het.

Die vere maak die voël

Die vere moet in ’n boogvorm lê. As dit lyk soos ’n “w” met ’n knak in die middel, is die buigsaamheid daarvan daarmee heen en is al die skokke van die padoppervlak regstreeks na die onderstel oorgedra.

Ruik jy rubber?

Selfs bande wat nog nooit gebruik is nie, kan voos wees omdat die rubber hard word en krakies kry. Kyk of die band fyn barsies het of skeef afgeloop het.

Haak hom, Blokkies

Die koppelstuk is daardie deel wat die sleepwa aan die bal op die voertuig se trekstang koppel. Die koppelstuk het ’n klougedeelte met ’n “tong” binne-in wat om die bal van die trekstang sluit. As hierdie tong beskadig is, sluit die koppelstuk nie behoorlik nie en kan jy jou waentjie in die ry verloor.

Die tong se beweging word deur ’n knip en handvatsel bo-op die koppelstuk beheer. Kyk of dit vrylik werk.

Rondom die stang is daar ook gewoonlik ’n konsertina-rubberhuls wat keer dat stof inkom. Kyk of hierdie rubberjas beskadig is.

Enigiemand tuis?

Om die ligte te toets is maklik: Haak die wa, koppel dit aan jou voertuig se sewepuntsok en toets die ligte.

Die meeste veldsleepwaentjies is toegerus met ’n batterystelsel en daarom is dit nodig om te weet of die verkoper die battery (gewoonlik die diepsiklussoort) ontkoppel het toe die waentjie weggesit is. Indien nie, is die battery waarskynlik vodde en sal jy dit moet vervang.

Toebehore of bybehore: Die meeste van hierdie soort waentjies word met toe- of bybehore soos ’n stoof, yskas, seil en tent verkoop. Ondersoek veral die tent deeglik. As ’n tent of seil ’n gaatjie het, behoort die koopprys aansienlik laer te wees.

Waarborg: Hoor by die verkoper of hy vir jou ’n waarborg of ’n diensplan gaan gee. ’n Verkoper wat vertroue het in dít wat hy aan jou verkoop, behoort nie te kibbel oor ’n waarborg nie.


GEBORG

Invader Off-Road Campers

Invader Off-Road Campers is ’n familiebesigheid met meer as 60 jaar se gekombineerde kampeer-ervaring. Met al die ontwerpe word prioriteit gegee aan die kampeerder se behoeftes, met aandag aan detail waar dit tel. Met ’n Invader-kampeerwa, het jy die ruimte en die luukse gemak van ’n karavaan. Tog, as dit tyd is om te reis, is dit ’n robuuste 4x4-veldwa met houding wat voldoen aan die behoeftes van ’n avonturier wat gewoond is aan gemak. Die Invader is ewe tuis in ’n karavaanpark of op die wilde Afrika-paaie vir daardie safari waarvan jy al so lank droom.


Mobi Lodge

Die Mobi Lodge is nie net dié uiterste veldry-karavaan nie, dit is ook luuks verby! Hierdie karavaan is kundig ontwerp om te gaan waar geen ander al voorheen was nie. En boonop beskik dit ook oor al die luukshede waarsonder ons nie wil klaarkom nie. Danksy Mobi Lodge is dit nou soveel makliker om daardie ongelooflike uitsigte en rustigheid van die Afrika-bosveld te beleef. Afrika roep jou, laat Mobi Lodge antwoord.

Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produkte nie.

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.27
-1.9%
Rand - Pond
21.71
-0.0%
Rand - Euro
18.42
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.0%
Rand - Jen
0.14
+0.2%
Goud
1,792.60
0.0%
Silwer
23.13
0.0%
Palladium
1,751.49
0.0%
Platinum
955.50
0.0%
Brent-ruolie
72.72
-11.6%
Top-40
62,411
-2.6%
Alle aandele
68,615
-2.8%
Hulpbronne 10
64,074
-2.5%
Industriële 25
92,909
-1.3%
Finansiële 15
12,995
-6.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos