
Dis uiteindelik tyd vir die 2022 Six Gun Grill Hot Summer of Touch en spanne wag in spanning vir die eerste kragmeting van dié gewilde raakrugby-reeks op Sondag 4 Desember!
Die eerste van agt toernooie skop hierdie naweek op Kampsbaai se strand af en spelers maak gereed om dit uit te spook vir ’n gesogte titel in die Pro-, Ope-, Junior-, Vroue-, en Challenger-afdelings.
Die reeks vind op strande al langs die kuslyn plaas, met Macassar wat vir die eerste keer op 11 Desember gasheer vir ’n toernooi sal speel. Daarna volg die Strand op 16 Desember, wat gewoonlik ’n enorme skare lok.
Op 18 Desember reis spanne na Kleinmond, gevolg deur Struisbaai op 23 Desember en Stilbaai op die 26ste. Die laaste twee toernooie word op 28 en 30 Desember by Diazstrand en Hartenbos in Mosselbaai beslis.
“Van die toernooie moes in 2021 halfpad deur die reeks afgestel word, en ons is opgewonde dat daar geen ongewone beperkings op vanjaar se reeks sal wees nie. Ons wil nie aanhou hamer op die wêreldwye uitwerking wat die Covid-19-pandemie op sportgeleenthede gehad het nie, maar dit het regtig die energie van hierdie en soveel ander geleenthede aangetas. Ons sien uit daarna om toeskouers en hul ‘gees’ terug te verwelkom,” sê Grahame Bobrow, toernooidirekteur.
“Die 2022 Six Gun Grill Hot Summer of Touch-reeks sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van ons borge en vennote nie. Strandraakrugby het ontwikkel en gegroei tot ’n instelling wat deur duisende strandgangers by die verskillende toernooie langs die kus bygewoon word.”
Die Six Gun Grill Hot Summer of Touch-geleentheid is een van die oudste strandgeleenthede in Suid-Afrika en belangstelling daarin groei steeds. Die toernooi-organiseerders is opgewonde dat die land se top-strandraakrugbyspanne hul deelname aan die 2022-reeks bevestig het.
Etson’s Warriors, die verdedigende kampioene, asook ander gewilde Pro-afdeling-spanne soos The Forward Foundation, The Reds, The Amazing Galaxy Warriors, Team Composure, The Maori Kingz, The Samurai Liberty Webb Rebels en Garden Route Saints, sal almal weer vanjaar in aksie wees.
Spanne wat nog vir hierdie naweek se toernooi op Kampsbaai wil inskryf, kan op Hot Summer of Touch gaan registreer. Die eerste wedstryd begin om 09:00, met spanne wat toegelaat sal word om op die dag vanaf 07:15 in te skryf en hul spanne te registreer.
Vir meer inligting oor die Six Gun Grill Hot Summer of Touch-reeks, besoek gerus https://hotsummeroftouch.co.za/ of volg hulle op Facebook (Hot Summer Of Touch), Instagram (@hotsummeroftouch) en TikTok (hotsummer_oftouch).