
Skryf in voor 12 Mei en kry 20% afslag sowel as twee maande gratis toegang tot Netwerk24 !
Daar heers groot opwinding en inskrywings stroom in na die bekendstelling van die Netwerk24 Paarl-fietstoer wat op 4 Desember by die Faurestraat-stadion in die Paarl plaasvind.
Ons word oorval deur fietsryers wat versoek dat ons die afslagaanbod vir die Paarl se groot wedren verleng, en die goeie nuus is dat die organiseerders grasie toegestaan het tot komende Donderdagaand 12 Mei.
Fietsryers wat nog wil inskryf en kapitaliseer op die 20% afslag-bekendstellingsaanbod moet voor Donderdagaand klik na www.devilliersnationalcycling.co.za om in te skryf.
Jaers wat voor Donderdagaand inskryf, kry nie net 20% afslag op hul inskrywingsfooi nie, maar ontvang ook twee maande gratis toegang tot Netwerk24 (bestaande intekenare uitgesluit).
Die Netwerk24 Paarl-fietstoer word met trots aangebied deur De Villiers National Cycling, Drakenstein-munisipaliteit en Netwerk24. Afstande om uit te kies is 105 km en 45 km.
Die wedren word ondersteun deur die Drakenstein-verkeersafdeling, sowel as Drakenstein se nooddienste wat na die veiligheid van fietsryers sal omsien.
Die Faurestraat-stadion is in die hartjie van die Paarl geleë, net 2 km ver langs die N1-snelweg via die Van Riebeeck-afrit.
Die wedren se logistiek en roetebeheer word hanteer deur De Villiers National Cycling met die deurwinterde wedrendirekteur, Wynand de Villiers, aan die spits. De Villiers het oor die afgelope 21 jaar ’n verskeidenheid wedrenne tot stand gebring en bestuur, insluitend die Tour du Cap, Boland 100 Miler, Die Groot Trap, Emperors Palace Classic, Satellite Classic, Berge en Dale, Jock Toer, en die Montecasino Classico.
“Dis fantastiese nuus vir fietsry. Meer as 10 000 fietsryers het deelgeneem aan Die Burger Sanlam, soos die wedren histories bekend gestaan het.
“Met die ondersteuning van Drakenstein-munisipaliteit het die Netwerk24 Paarl-fietstoer ’n geskikte tuiste in die Paarl, weg van die stad se geraas, in die hartjie van die Boland, wat dit veilig en verbruikersvriendelik maak vir fietsryers,” sê De Villiers.
De Villiers sê ook sy span implementeer hul beproefde model van roetebeheer op die Netwerk24 Paarl-fietstoer. “Ons bied nou al vir meer as 20 jaar wedrenne aan en ons span het ’n merkwaardige begrip van die kragte wat inwerk op ’n roete en wat dit behels om ’n veilige ry-omgewing vir fietsryers te skep.”
De Villiers sê die roete bied ’n gematigde uitdaging. “Om dit moontlik te maak vir soveel moontlik entoesiaste om te kan deelneem, het ons nie een van die bergpasse om die Paarl ingesluit nie.
“Ons wil dit graag toeganklik maak, maar in dieselfde asem bly dit ’n beduidende prestasie om die wedren te voltooi. Om 105 km, of selfs 45 km, op ’n fiets te kan voltooi is regtig iets om oor te kan spog,” sê hy.
Aldus De Villiers berus die sukses van massadeelname-wedrenne heelhuids op die ondersteuning wat die wedren kry van die stad se wetstoepassers en die gehalte van die beamptes wat op die roete ontplooi word.
“Die Netwerk 24 Paarl-fietstoer is baie bevoorreg in dié verband met die Drakenstein-verkeersdepartement wat die wedren ondersteun. Dit, tesame met ons ervare statiese en mobiele roetebeamptes, sal verseker dat fietsryers veilig is.
Die 105 km-roete is binne bereik van die meeste fietsryers wat bereid is om te oefen en goed voor te berei. Die algehele styging in hoogte bo seespieël op die 105 km-roete is 1 100 m.
Die 45 km is ’n lekker prettrap wat haalbaar is vir almal, mits jy darem ’n redelike fiksheidsvlak in ’n sportsoort of in die gimnasium handhaaf. Die totale styging in hoogte bo seespieël op die 45 km roete is 500 m.
Peninsula Beverages (Coca-Cola) en Food Lover’s Market is bevestig as borg vir die waterpunte en jaers sal ook bederf word met smullekker eetgoed by die waterpunte.
Roete-beskrywing
105 km
Die wedren spring oos weg en neem ryers deur die hartjie van die Paarl via Bergrivier-boulevard en die Hoofstraat.
Jaers hou reguit aan in die Hoofstraat al die pad tot in Klapmuts waar die roete dan links draai op die R44 in Stellenbosch se rigting.
Nog ’n regsdraai voor Stellenbosch neem ryers verby die Simonsig-wynplaas en die roete sluit dan aan by die R304 Klipheuwel-pad.
Jaers ry oor die N1 in die rigting van Malmesbury met die Klipheuwel-pad en draai dan regs op die R312 om aan die voet van Paarlberg uit te kom.
By die R44 T-aansluiting draai jaers links Wellington toe met die R44. In Wellington draai die roete regs in Piet Retiefstraat terug Paarl toe.
Die roete mis die Paarl se middedorp deur jaers vir die laaste stukkie op die Swaelstertpad en Sonstraalpad terug na die Faurestraat-stadion te neem.
45 km
Die 45 km-afstand skakel Klapmuts en die Klipheuwelpad uit. Ná die eerste deel in die Paarl, draai 45 km-jaers regs op die Suid-Agter Paarlpad, en sluit op die R44 aan by die 105 km-roete.
Die Netwerk24 Paarl-fietstoer
Datum: 4 Desember 2022
Tyd: 06:00
Plek: Faurestraat-stadion, Paarl
Afstande: 105 km of 45 km
Inskrywingsfooie:
105 km: R490 (R400 vir ryers wat inskryf voor 12 Mei)
45 km: R370 (R300 vir ryers wat inskryf voor 12 Mei)
Tydhouding: RaceTec
Enigiemand kan deelneem aan die wedren, insluitend CSA-gelisensieerde veterane en elite-ryers, sowel as ryers met ’n gewone CSA-affiliasielisensie.
Waar om wedren-nommers op te tel
Registrasie vind plaas by:
Donderdag 1 Desember 09:00 - 16:00 by Chris Willemse-fietse, Durbanville
Vrydag 2 Desember 09:00 - 16:00 by Chris Willemse-fietse, Durbanville
Saterdag 3 Desember 09:00 - 15:00 by Bicycle Garage, Paarl
Vir meer inligting en om in te skryf, gaan na www.cycleevents.co.za.
Skakel gerus die wedrenkantoor by 083 534 7979 of stuur e-pos na devillierscycling@mweb.co.za vir meer inligting.