Deel

Sal die volgende 10 jaar beter wees?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bekommerd oor beleggings in SA? Daar is wel aksieplanne wat jy kan oorweeg om jou opbrengste te verbeter.
Bekommerd oor beleggings in SA? Daar is wel aksieplanne wat jy kan oorweeg om jou opbrengste te verbeter.

Die afgelope 10 jaar en selfs langer was nie baie goed vir beleggers in tradisionele beleggingsinstrumente nie. Die opbrengste was maar karig en bitter min beleggers in multi-bateklasbeleggings, soos effektetrusts, pensioenfondse en bewaringsfondse, het inflasie oor 10 jaar geklop.

In baie gevalle was die opbrengs van groot bekende name bloot ’n terugbetaling van die bydraes wat oor die termyn gemaak is. Van reële groei was daar maar bitter min ter sprake, iets wat baie beleggers met toenemende kommer agterkom. Daarenteen het fondse met buitelandse blootstelling dubbele en soms driedubbele opbrengste getoon oor dieselfde tydperk.

Baie aftreeplanne wat sowat 10 en selfs 20 jaar gelede gemaak is, skiet vandag baie ver tekort en dit  tesame met die inploffing in huispryse wat in baie gevalle ’n groot deel uitmaak van aftreeplanne  beteken ’n aftrede wat teleurstellend gaan wees vir baie.

Huispryse  met die uitsondering van die Wes-Kaap  het die afgelope 10 jaar met bykans 15% in reële terme gedaal. Kyk gerus na die meegaande grafiek om die werklikheid te sien: gemiddelde huispryse, buite die Wes-Kaap, het in reële terme met tussen 15 en 25% gedaal.

msci

Terselfdertyd het die netto opbrengs van die meeste pensioenfondse oor 10 jaar gesukkel om inflasie te klop. Die gemiddelde groei die afgelope drie jaar was weliswaar beter grootliks vanweë die skerp styging in kommoditeitspryse maar oor die afgelope jaar was die opbrengs van die JSE Algehele Indeks weer baie na aan nul.

Word SA ’n gefaalde staat?

Die batebestuursbedryf is nie gretig om hieroor te praat nie en probeer die klem verskuif na moontlike beter opbrengste in die toekoms op grond van sogenaamde “lae waardasies”, maar op kort termyn lyk so ’n skielike verandering in opbrengste op die JSE die grootste dryfkrag van opbrengste nie baie waarskynlik nie.

In die afgelope weke het verskeie stemme opgegaan oor SA se toekoms. “Geen lig aan die einde van die tonnel nie,” skyf bekende kommentator Max du Preez. “SA is ’n mafiastaat,” sê Jacques Pauw in dieselfde uitgawe van Vrye Weekblad, skaars ’n week voordat Cloete Murray en sy seun koelbloedig op die N1-snelweg in Gauteng vermoor is. Ralph Mupita, uitvoerende hoof van die reuse-MTN, skryf in Business Day van die “drie ruiters van die Apokalips” om sy kommer oor die voortbestaan van SA as ’n normale funksionerende staat te bestempel.

Claire Bisseker, ekonomiese redakteur van Financial Mail, huldig dieselfde mening terwyl Peter Bruce, vorige redakteur van Financial Mail, waarsku dat ’n koalisieregering tussen die ANC en die EFF tot ’n algehele ineenstorting van die SA ekonomie aanleiding sal gee. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ook vandeesweek sy gereelde verslag oor SA uitgereik en voorspel dat ons groeikoers hierdie jaar net 0,1% sal wees. Vir alle praktiese redes, nul.

Vooruitsigte vir die langer termyn lyk ook nie veel beter nie dalk 1,5% per jaar, wat nog steeds wesentlik laer is as die groeikoers in die bevolking.

Baie aftreeplanne wat sowat 10 en selfs 20 jaar gelede gemaak is, skiet vandag baie ver tekort en dit – tesame met die inploffing in huispryse wat in baie gevalle ’n groot deel uitmaak van aftreeplanne – beteken ’n aftrede wat teleurstellend gaan wees vir baie.
Magnus Heystek

Een van die vernaamste redes vir die swak opbrengste die afgelope 10 tot 15 jaar, was die beperking op buitelandse bates in Regulasie 28 vir pensioen- en aftreefondse. In 2011 het die Tesourie begin voorskryf hoeveel geld pensioenfondsbestuurders in hulle fonds kan hou. Vir baie jare was dit slegs 20% en is eers in later jare verhoog tot 30% en toe verlede jaar, onder kwaai druk van sekere belangegroepe, verhoog tot 45%.

Vir jare het die bedryf beleggers probeer paai dat 20% en toe later 30%, “genoeg oorsese blootstelling” was ten einde opbrengste te verhoog, maar dit was nie waar nie. Die ware feite is dat die SA beurs oor die afgelope 15 jaar nou al – vanaf 2008 – een van die swakste beurse ter wêreld was met opbrengste wat inflasie skaars geklop het. Daar is baie redes hiervoor: die ineenstorting van Eskom en ander kardinale infrastruktuur, korrupsie, staatskaping en les bes – SA se verskyning op die sogenaamde gryslys deur internasionale banke. Ook S&P Global Ratings het onlangs SA se vooruitsigte van positief na stabiel afgradeer. Baie kommentators het die impak van die gryslys probeer afmaak as gering en nie noemenswaardig nie, maar ’n studie van die IMF toon dat lande gewoonlik vier tot vyf jaar op die gryslys bly en dat dit tot ’n skerp uitvloei van kapitaal kan lei, wat noodlottig is vir die wisselkoers en die betalingsbalans.

Ná koste en fooie, het bitter min beleggers inflasie geklop en ondervind hulle derhalwe ’n baie skerp daling in die koopkrag van hul pensioengeld. Die gemiddelde opbrengs (voor koste) van ’n hoë- en mediumrisiko-pensioenfonds die afgelope 10 jaar was 7,41% en 7,14% onderskeidelik. Indien ’n mens inflasie (6%) en koste van 2% byvoeg, het die gemiddelde pensioenfonds oor hierdie tyd geen groei in reële terme getoon nie. Die media skram ook maar weg van hierdie onderwerp, heel waarskynlik om groot adverteerders nie om te krap nie.

’n Deel van die blaam kan ook voor die deur van beleggers geplaas word. In baie gevalle is beleggers onkundig en verstaan hulle nie die implikasie van groei-laer-as-die-inflasiekoers nie. Dis verstaanbaar. Maar daar is ook ’n groot persentasie beleggers in hierdie fondse wat ’n traak-my-nie-agtige houding het oor hul geldsake en nie meer indringende vrae vra oor hul eie geld nie. Die JSE se opbrengste was vir ’n kort tydperk vanaf Maart 2020 tot Maart 2022 heel aanvaarbaar, maar sedertdien het hierdie groei ook drasties verlaag, ondanks die gereeld optimistiese vooruitskattings deur sommige fondsbestuurders.

Tot dusver hierdie jaar, in dollarterme, was die opbrengs van die JSE derde laaste onder opkomende lande, met ’n daling van 8,7%. In dieselfde geselskap as Kolombië en Pakistan.

msci

Aksieplan vir beter opbrengste

Hier is ’n paar opsies om te oorweeg ten einde hierdie situasie om te keer en te verbeter:

• Oorweeg om diskresionêre gelde oor te swaai na ’n suiwer buitelandse portefeulje. Die hele portefeulje kan oorgeswaai word of net toekomstige bydraes. Baie groot batebestuurders en hul gevange adviseurs hou nie hiervan nie, want dit kan ’n verlies aan besigheid meebring. In baie gevalle kan beleggers beter fondse kry teen laer koste.

• Daar is soms ook verskuilde kostes en kommissie ter sprake wat beëindig sal word as gelde weggeskuif word, daarom die teenkanting teen verandering uit sommige oorde.

• Beleggers ouer as 55 met geld in 'n uitkeerannuïteit, bewaringsfonds en/of voorsorgfonds, kan weer eens oorweeg om hierdie gelde te onttrek, hetsy in geheel of net die toegelate een derde, en dan die balans oor te swaai na ’n suiwer oorsese fonds waaruit ’n minimum onttrekking van 2,5% gedoen kan word. Die voordeel hier is dat (a) een derde te gelde gemaak kan word om dalk duur skuld af te betaal, of andersins die geld te herbelê in suiwer oorsese fondse, die sogenaamde bateruilfondse. Geld word in rand belê, maar die beleggingshuis sal die gelde oorskuif na die buiteland.

• Die derde opsie is om die kontant – indien groot genoeg – oor te skuif na die buiteland via die SA Reserwebank se toegif van ’n diskresionêre toelaag van R1 miljoen per jaar, of beleggingstoelaag van tot en met R10 miljoen per jaar. Dis verstommend dat baie adviseurs nog steeds hierteen gekant is, synde dat sulke advies “dislojaal en onpatrioties is”. Dis sommer kaf, want baie van die groot SA batebestuurders – Allan Gray, Coronation, Foord en baie ander – is eintlik buitelandse maatskappy en betaal min belasting in SA. Coronation het juis ’n probleem met die SAID wat ’n hofsaak hieroor gewen het, en die maatskappy moet nou R900 miljoen in agterstallige belasting betaal.

• En les bes, as jou huidige adviseur nog steeds vasklou aan die “plaaslik is lekker”-mantra, kry ’n ander een. Sulke standpunte kan nie meer op feitlike gronde gemaak word nie. Daar is dan ander, verskuilde, redes vir sulke advies.

Brenthurst word gereeld uit sommige oorde gekritiseer oor hierdie ekstreme standpunt, maar die kritiek faal op feitlike gronde. Die gemiddelde Suid-Afrikaner se beleggings die afgelope 10 tot 15 jaar het nie veel reële waarde geskep nie. Die kanse is nie baie goed dat hierdie situasie vinnig gaan verander nie.

Magda Wierzycka, grootbaas van Sygnia, het juis verlede week op ’n Brenthurst-webkonferensie prontuit gesê dat SA ’n gefaalde staat is.

Tony Leon, vorige leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het ook in ’n rubriek gewaarsku oor die moontlikheid dat die ANC en die EFF ’n koalisieregering kan vorm ná die 2024-verkiesing. En dan, soos Leon skryf, is dit ’n nagmerrie vir Suid-Afrika.

• Magnus Heystek is ’n beleggingstrateeg en direkteur van Brenthurst Wealth.

Brenthurst Wealth is een van SA se grootste onafhanklike adviesfirmas in die land met nege kantore landwyd, plus een in Mauritius. Die jongste kantoor is so pas in George geopen. Brenthurst het ook twee keer die Intellidex-toekenning verower as top-boetiekwelvaartbestuurder in SA, terwyl sy adviseurs al drie topplekke ingeneem het as die finansiële beplanners van die jaar in 2022.

Vir meer inligting, gaan na die webblad by www.bwm.co.za of skryf gerus aan invest@brenthurstwealth.co.za.



Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
besig om te laai... Regstreeks
England 524/4
Ireland 172/10 & 102/3
Rand - Dollar
19.51
+0.6%
Rand - Pond
24.29
+0.0%
Rand - Euro
20.93
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.92
-0.2%
Rand - Jen
0.14
+0.0%
Platinum
1,003.50
0.0%
Palladium
1,420.36
0.0%
Goud
1,948.15
0.0%
Silwer
23.63
0.0%
Brent-ruolie
76.13
+2.4%
Top-40
71,993
+1.9%
Alle aandele
77,126
+1.7%
Hulpbronne 10
70,299
+1.9%
Industriële 25
105,036
+2.0%
Finansiële 15
14,803
+1.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos