
Die Afrikaanse alternatiewe rockgroep Spoegwolf kuier op Vrydag 1 April op die plaas Celebratio buite Oudtshoorn, waar hulle as deel van die KKNK optree.
Spoegwolf, met Danie en Moskou du Toit, Albert van der Merwe en Chris von Wielligh, kyk in Spoegwolf: 10 Jaar terug op ’n dekade lange musiekloopbaan propvol hoogtepunte en toekennings; ’n musiekloopbaan wat hul wildste verwagtinge oortref het.
Toe dié klomp boorlinge van die Paarl in 2012 Spoegwolf gestig het, het hulle nog net gedroom daarvan om voor duisende mense op te tree. Hulle was tevrede met 50, selfs 20 mense by ’n konsert. Een van dié konserte was juis by die KKNK in 2012 en daar was “baie min mense”.
“Dit was een van ons eerste shows, iewers in ’n saal in Oudtshoorn. Ek onthou die min mense,” vertel Chris laggend.
Maar die manne van Spoegwolf het hul bes gegee, soos met elke optrede, en hulle het beslis daardie aand ’n paar aanhangers bygekry.
En toe, sewe jaar daarna in 2019, word die viertal se album Koma op Valentynsdag uitgereik. Twee dae later is dit nommer een op Apple Music se album-trefferlys – ’n eerste vir ’n Afrikaanse groep, met 11 van die 14 liedjies in die top-100.
Hul sukses kan toegeskryf word aan ’n paar dinge – die lirieke wat met ’n mens praat, die slim musiekverwerkings, hul energie op die verhoog, hul interaksie met die gehoor en aanhangers en die feit dat hulle weier dat iemand hulle in ’n boksie sit. Hulle is gedurig besig om uit te daag, te vernuwe en die grense te verskuif.
Dis ook hoekom asems opgehou word vir hul jongste album, wat volgens beplanning voor die groep se optrede by Celebratio vrygestel sal word, want Danie, Moskou, Albert en Chris sorg altyd vir ’n verrassing.
Konsertgangers wat Spoegwolf: 10 Jaar bywoon, kan splinternuwe liedjies verwag, asook van die groep se grootste treffers.
Die konsert is vir almal wat jonk van gees en vol energie is. En moenie ’n fout maak om te dink dis net kinders en mense in hul twintigs en dertigs wat aan hul lippe hang nie. Die profiel van hul aanhangers is, net soos hulle, verrassend divers.
Die kos- en drankstalletjies maak 18:00 oop en die konsert begin 20:00.
Celebratio is ’n granaatplaas sowat 30 km buite Oudtshoorn op die Ou Sementpad. Geen grondpad hoef gery te word nie en alle sitplekke moet bespreek word.
Kaartjies kos R250 en is beskikbaar webtickers. Klik gerus hier om in aanmerking te kom met kaartjies.
Vir navrae kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.