
Die voormalige professionele fietsryer Hanco Kachelhoffer het ’n roemryke sportloopbaan agter die rug en is glad nie verbaas dat inskrywings vir die Netwerk24 Paarl-fietstoer soos soetkoek opgeraap word nie. Die wedren vind op 4 Desember in die Paarl plaas.
“Benewens die Boland se ongelooflike skoonheid, het ons redelik min verkeer en die paaie is in ’n wonderlike toestand. Bolandse motoriste is geduldig en tegemoetkomend en plaaslike wetstoepassing uitsonderlik,” sê Kachelhoffer.
“Dit raak al hoe moeiliker om ’n veilige omgewing vir fietsrenne in ander dele van die land te verseker. Die Paarl is die gebied in Suid-Afrika wat seker die vinnigste groei en is ’n logiese keuse vir ’n massadeelname-wedren. Almal sien ook al lank uit na die herlewing van Die Burger-Sanlam-fietstoer.
“Dit is geen verrassing dat Die Burger-Sanlam destyds meer as 10 000 ryers gelok het nie. Dit sal ongetwyfeld net so baie deelnemers trek in sy nuwe gestalte as die Netwerk24 Paarl-fietstoer.”
Inskrywings vir die Netwerk24 Paarl-fietstoer is reeds oop op www.devilliersnationalcycling.co.za. Plekke vlieg behoorlik danksy die spesiale bekendstellingsaanbod wat deelnemers 20% afslag bied en tot Donderdagaand (5 Mei) geldig is.
Kachelhoffer, ’n oudleerling van Grey College, bedryf Bicycle Garage in die Paarl saam met sy vrou, die voormalige professionele fietsryer An-Li Kachelhoffer. Hulle het ’n paar jaar gelede na die Paarl verhuis en meen Bolandse motoriste is oplettend, wetsgehoorsaam en geduldig.
“Daar is nie ’n beter geografiese gebied in die land vir padfietsry nie. Die Boland het ’n ander soort tempo, al is dit so na aan Kaapstad geleë. Dit is so ’n pragtige plek om jou fiets te ry en die paaie is perfek vir padfietse,” sê Kachelhoffer.
“Verkeer is in die algemeen kalm en padgebruikers heelwat meer vergewensgesind en geduldig as in ander dele van die land. Ons padoppervlakke is ook uitstekend.”
Meer oor die roetes
Wynand de Villiers, wedrendirekteur van die Netwerk24 Paarl-fietstoer, stem saam. De Villiers het oor die afgelope 21 jaar ’n verskeidenheid padfietsrenne tot stand gebring en bestuur, insluitend die Tour du Cap, Boland 100 Miler, Montecasino Classico, Die Groot Trap, Emperors Palace Classic, Satellite Classic, Berge en Dale en Jock Tour.
Volgens De Villiers hang die sukses van massadeelname-byeenkomste af van ’n magdom faktore en die Netwerk24 Paarl-fietstoer trek ’n regmerkie in baie van hierdie boksies vanweë die Bolandse ligging.
“Groot geleenthede vereis ook ’n hoë vlak van ondersteuning van wetstoepassingsowerhede. Die Netwerk24 Paarl-fietstoer is baie bevoorreg in dié verband met die Drakenstein-verkeersdepartement en provinsiale verkeer wat die wedren ondersteun. Dit spog ook met ervare statiese en mobiele roetebeamptes onder die deurwinterde leiding van André Gilliland van die Wellingtonse Lions-klub.”
Op die 105 km-roete is die totale styging in hoogte bo seespieël 1 100 m en op die 45 km-rit is dit 600 m.
De Villiers sê die roetes bied ’n matige uitdaging. “Om dit moontlik te maak vir soveel moontlik fietsry-entoesiaste om te kan deelneem het ons geen van die bergpasse om die Paarl ingesluit nie. Ons wou dit graag toeganklik maak, maar in dieselfde asem bly dit ’n beduidende prestasie om die wedren te voltooi. Om 105 km, of selfs 45 km, op ’n fiets te voltooi is regtig iets om oor te kan spog,” sê hy.
Peninsula Beverages (Coca-Cola) sal op wedrendag omsien na die drinkgoed. Deelnemers by waterpunte kan ook uitsien na smullekker eetgoed geborg deur Food Lover’s Market.
Wat jy moet weet
Datum: 4 Desember 2022
Tyd: 06:00
Plek: Faurestraat-stadion, Paarl
Afstand: 105 km of 45 km
Inskrywingsgeld:
105 km: R490
45 km: R370
Tydhouding: RaceTec
Enigiemand kan deelneem aan die wedren, insluitend CSA-gelisensieerde veterane en elite-ryers, sowel as ryers met ’n gewone CSA-affiliasielisensie.
Waar om wedrennommers op te tel
Donderdag 1 Desember 09:00 – 16:00 by Chris Willemse-fietse, Durbanville
Vrydag 2 Desember 09:00 – 16:00 by Chris Willemse-fietse, Durbanville
Saterdag 3 Desember 09:00 – 15:00 by Bicycle Garage, Paarl
Skakel gerus die wedrenkantoor by 083 534 7979 of stuur e-pos na devillierscycling@gmail.com vir meer inligting.