
Jy droom dalk van die dag wanneer jy Suid-Afrika vaarwel kan roep, hetsy permanent of net vir ’n kort tydjie. Voordat jy hierdie groot stap neem, is dit egter belangrik om die basiese finansiële beginsels en plaaslike wetgewing rondom emigrasie te verstaan.
Martin Bezuidenhout, hoofkonsultant van ekspat-belasting: finansiële emigrasie by Tax Consulting, sê Suid-Afrika gebruik ’n inwoner-gebaseerde belastingstelsel, wat beteken dat belasting inwoners op hul buitelandse inkomste ten volle belas sal word, en nie-belastinginwoners slegs belasting op hul Suid-Afrikaanse bronne van inkomste hoef te betaal.
Hy sê mense wat oorsee woon en werk, het gelukkig verskeie opsies tot hul beskikking om die belastinglas te verlig.
“Eerstens, kan Suid-Afrikaners wat oorsee werk en daaraan dink om in die toekoms terug te keer, vrystelling eis onder Artikel 10(1)(o)(ii) van die Wet op Inkomstebelasting. Jy sal 183 volle dae buite Suid-Afrika moet woon, waarvan 60 van daardie dae aaneenlopend moet wees. Mits hierdie vereiste nagekom word, sal slegs die eerste R1 250 000 van oorsese werksinkomste wat deur ’n belastinginwoner verdien is, vir vrystelling kwalifiseer. Dit sal van toepassing wees op belastingjare vanaf of ná 1 Maart 2020.
“Tweedens, indien jy meer as R1 250 000 verdien en in ’n land woon wat ’n dubbelbelastingooreenkoms met Suid-Afrika het, kan jy as nie-belastingbetalende inwoner vir die betrokke belastingjaar kwalifiseer indien jy die ‘valbyl’-toets slaag soos uiteengesit in die voorwaardes van die dubbelbelastingooreenkoms.”
Laastens, sê hy, indien jy permanent oorsee wil woon, het jy die keuse van finansiële emigrasie. “Jy sal vanaf die dag dat jy jou belastingstatus verander, as buitelander geag word en sal dan slegs belasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verskuldig wees vir inkomste wat jy in Suid-Afrika verdien het.”
Wat het verander?
“Ons belastingstelsel het in Maart 2001 van ’n bron-gebaseerde na ’n inwoner-gebaseerde stelsel oorgeskakel. Dit beteken dat daar in belastingwetgewing onderskeid getref word tussen ’n inwoner en nie-inwoner. Belastinginwoners word belas op hul internasionale inkomste, terwyl nie-belastinginwoners slegs belasting op hul Suid-Afrikaanse inkomste hoef te betaal. Dit is veral belangrik om hierdie verskil te verstaan indien jy tans in die buiteland woon of beplan om die land in die toekoms te verlaat,” verduidelik Bezuidenhout.
Hy sê voor Maart 2020 was individue wat vir die vrystelling onder Artikel 10(1)(o)(ii) gekwalifiseer het, ten volle vrygestel van belasting in Suid-Afrika en het die R1 250 000-drempel nie gegeld nie. “Die bekendstelling daarvan beteken dat enige inkomste bo die drempel belas word, ooreenkomstig met die marginale belastingkoers.
“Die wetlike veranderinge het ook ekspats se toegang tot aftreefondse geraak. Voordat die veranderinge in Maart 2021 in werking getree het, kon Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, hul aftreefondse volledig onttrek indien hulle die finansiële emigrasieproses formeel by die SAID en die Suid-Afrikaanse Reserwebank voltooi het. Tans is aftreefondse soos aftree-annuïteite en bewaringsfondse ‘gesluit’ tot die belastingbetaler kan bewys dat hy of sy vir ’n ononderbroke tydperk van drie jaar nie as Suid-Afrikaanse burger gekwalifiseer het nie.”
Moontlike struikelblokke van emigrasie
Volgens Bezuidenhout is moontlike kwessies wat kan opduik, dat mense nie ingelig is nie of verkeerd ingelig is oor die belastingimplikasies van oorsee woon en werk. Dit kan hul risiko vir moontlike nie-nakoming van wetgewing en die nadelige gevolge daarvan, verhoog.
“Die beste benadering is om ’n gekwalifiseerde persoon te spreek wat die ingewikkeldheid van ekspat-belasting verstaan en jou kundige raad kan gee oor die beste roete om te volg.”
Nuttige wenke vir ’n gemakliker emigrasieproses
“Emigrasie eis ’n emosionele en fisieke tol op mense. Dikwels is die sleutelbestanddeel wat ontbreek, ’n doeltreffende, omvattende plan wat al die aspekte van die proses uiteensit en in ag neem,” sê Bezuidenhout.
Hy sê hoewel die emigrasieproses vir elkeen verskil en daar nie ’n universele plan is wat nommerpas vir almal sal werk nie, sal ’n toegewyde diensverskaffer verstaan dat die volgende drie hoofaspekte deeglik verduidelik en deur die emigrasieplan aangespreek moet word:
1. Werksaanbiedings, visums en permitte
Die meeste Suid-Afrikaners neem die “inkopie”-benadering as dit by emigrasie kom. Hulle beplan om vir ’n jaar of twee ’n visum vir die land van hul keuse te bekom, en dan ’n rukkie daar te gaan woon om te sien of hulle daarvan hou. Dit is nie hoe dit werk nie. Lande maak nie hul grense vir besoekers oop as hulle nie weet wat daardie persoon in hul land gaan doen en hoe lank hulle van plan is om daar te bly nie.
Tensy jy burgerskap op grond van herkoms kan verkry, is die onmiddellike struikelblok om ’n geldige werksaanbod te bekom waarmee jy vir ’n werkspermit aansoek kan doen. Indien jy oor spesifieke vaardighede of kundigheid beskik, kan jy vir ’n kritieke vaardigheid- of talent-visum kwalifiseer alvorens jy vir werk aansoek doen, maar jy sal eers aan die land se kwalifikasievereistes in jou veld moet voldoen.
2. Voorneme of waarskynlikheid
’n Goeie konsultant begin gewoonlik deur te vra wat die doel is waarmee jy oorsee gaan. Na gelang van of jy daar wil aanbly of ná ’n jaar of twee wil terugkeer, sal jou aansoekproses verander en ’n uitkringeffek op jou geldsake hê. Indien jy onseker is oor die toekoms, vra jouself wat waarskynlik sal gebeur. Is die kanse groter dat jy sal terugkeer na Suid-Afrika of glad nie?
Dit sal bepaal of jy:
1. Jou belastingverblyfstatus permanent deur middel van finansiële emigrasie beëindig;
2. Jou belastingverblyfstatus tydelik deur ’n dubbelbelastingooreenkoms beëindig; of
3. Belastingvrystelling as Suid-Afrikaanse belastinginwoner eis.
3. Geldsake en belasting
Dit is kommerwekkend om te sien hoeveel mense nie die impak van emigrasie of oorsese werk op hul finansies oorweeg nie. Hulle is so besig om werk in ’n ander land te soek of uit hul eie land te probeer ontsnap, dat hulle selde verder as die permit- of visumaansoekproses kyk. Dit is belangrik om jou kop rondom die uitdagings van ’n nuwe lewe in die vreemde te kry, maar het jy ooit gedink aan wat met jou belasting of neseier gaan gebeur?
Indien jy beplan om oorsee te woon of werk, of dit nou permanent of tydelik is, moet jy onthou dat dit ernstige gevolge vir jou finansies inhou. Hierdie gevolge sal verander na gelang van jou persoonlike omstandighede wat jou werk, ouderdom, die land waar jy werk en die salaris wat jy verdien insluit.
Ter afsluiting, onthou dat alvorens jy die finansiële emigrasieproses begin, ’n noukeurig saamgestelde plan onontbeerlik is om te verseker dat jy nie net vanuit ’n belastingoogpunt aan wetgewing voldoen nie, maar jou uitgang ook op die mees doeltreffende manier moontlik gedoen word om onnodige komplikasies in die toekoms te vermy.
Hierdie artikel is geborg deur die adverteerders hieronder:
GEBORG
Financial Emigration
Beoog jy om Suid-Afrika te verlaat – permanent of onbepaald – of is jy dalk reeds oorsee, maar het steeds belastingverpligtinge in Suid-Afrika? Financial Emigration, ’n afdeling van Tax Consulting South Africa, hanteer die volledige aansoekproses om jou belastingresidensie te beëindig, van begin tot einde. In samewerking met die SAID verseker Financial Emigration streng voldoening aan alle wetgewing. Dit sal jou beskerm en terselfdertyd verseker dat die inkomste wat jy oorsee verdien, nie in Suid-Afrika belas word nie. Tree in verbinding met een van hul emigrasiespesialiste vir ’n gratis konsultasie. Laat alles aan hulle oor.
Move Up
Move Up is ’n Suid-Afrikaanse visum-diensmaatskappy wat individue en sakeondernemings help om die komplekse proses om visums vir die Verenigde Koninkryk te verkry, te navigeer. Hul span toegewyde en ervare visumkonsultante het grondige kennis van die VK-visumstelsel en is toegewyd om persoonlike en doeltreffende diens aan kliënte te lewer. Of jy die VK wil besoek, daar wil werk of gaan woon, Move Up kan jou deur die proses lei en jou kanse op sukses verbeter. Tree met hulle in verbinding vir ’n gratis waardebepaling en laat hulle jou help om jou VK-visumdoelwitte te bereik.
Execu-Move
Beplan jy om binnekort te emigreer of bloot jou kantoor te skuif? Jou antwoord is hier.
Execu-Move is ’n internasionale trek-, verpak- en stoormaatskappy met meer as 2 000 topagente wêreldwyd om jou trek so gemaklik moontlik te maak. Hul agente is vriendelik en gereed om jou stap vir stap deur elke aspek van die trek by te staan - of dit nou plaaslik, provinsiaal of internasionaal is.
Execu-Move hanteer al die aspekte van verhuising, van meubels sorgvuldig voorsien van beskermde verpakking tot die uitpak en opstel van al jou huisraad en meubelment, die versending van voertuie en soveel meer. Hulle het takke regoor Suid-Afrika, insluitend Kaapstad, Johannesburg, Durban en Gqeberha.
Skakel 086 100 6683 of besoek www.execu-move.co.za om jou volgende trek te bespreek.
Migrate 2 Oz
Migrate 2 Oz is ’n geregistreerde Australiese immigrasie-agent met geregistreerde spesialiste wat al die belangrike vrae kan beantwoord. Die belangrikste vraag is egter: Kwalifiseer jy vir ’n visum om na Australië te emigreer? Van hier af sal hul ervare agente jou deur die hele proses lei, inlig en ondersteun om sover moontlik te verseker dat jou visum-aansoek goedgekeur sal word.
Migrate 2 Oz is welbekend met die Australiese visum-stelsel en kan jou van die beste raad voorsien oor wat die beste visum-opsie vir jou spesifieke behoeftes is. Hulle help graag professionele persone, ouers, eggenote, lewensmaats en professionele sakemanne en -vroue. Migrate 2 Oz het kantore in Suid-Afrika en Australië. Vir meer inligting, besoek gerus www.migrate2oz.co.za.
Bridging the Gap Migration
Sedert 2005 bied Bridging the Gap Migration ’n persoonlike diens aan emigrante na die Verenigde Koninkryk. Hulle help kliënte graag met alle aspekte van hul emigrasiebehoeftes, en spesialiseer in visums vir die Verenigde Koningkryk, Britse burgerskap, werk- en studievisums, asook visums vir toeriste. Die vereistes en reëls vir VK-visums verander voortdurend, en Dirk Bouwer (op die foto) en sy span is altyd op die hoogte van die jongste verwikkelinge. Die BTGM-span leef werklik hul kernwaardes van uitstekende kliëntediens, spanwerk, lojaliteit en passie uit. Daarom laat hulle die proses seepglad en naatloos verloop. Lees gerus wat bestaande kliënte op hul webwerf sê.