
Dit is nie nodig om van dag een af vreesloos vleisloos te wees nie. Stel dié plantgebaseerde leefstyl eers net een aand per week op die proef.
Volgens Claudine Ryan, geregistreerde dieetkundige in Gqeberha, sal jou spysverteringstelsel ná slegs een dag van ’n plantgebaseerde dieet volg, beter funksioneer omdat ’n veganistiese dieet baie vesel insluit.
“Jy kan ook meer energiek voel in vergelyking met dae waarop jy verwerkte vleis eet. Op die lang termyn kan selfs net een veganistiese dag per week voordele inhou vir jou kardiovaskulêre gesondheid, dermmikroflora en kankerrisiko.”
Hoe werk dit?
Magda Pieters, geregistreerde dieetkundige in Bellville, sê om ’n veganistiese dieet een dag per week te volg, byvoorbeeld die bekende Meatfree Monday, word fleksitarisme genoem.
“Kies ’n dag in die week wat jy die aand by jou eie huis sal eet, en nie ’n moeilike keuse by ’n restaurant of vriende hoef te maak nie,” stel sy voor. “Meatfree Monday het juis so gewild geraak omdat mense ná ’n naweek se lekker eet, die week op ’n goeie manier wil begin.
“Beplan mooi voor die tyd, en maak seker dat jy vooraf jou bestanddele byderhand het. Moenie fokus op die vleis wat jy gaan uitsluit nie, fokus op al die lekker nuwe geure wat jy gaan insluit en bymekaarsit.”
Sy stel voor jy kies kleurryke groente – een rooi, een geel en een groen groente – sodat jou bord mooi kleurvol lyk.
“Verskillende teksture sal ook die ete interessant maak, byvoorbeeld botterskorsie of pampoen in blokkies, vars net-net gaar groen baba-ertjies, kapokpatats of kapokaartappels, gerasperde rou wortels, en ’n kraakvars slaai met blare, tamaties, olywe en pesto. Gebruik lekker geurmiddels soos kaneelstokkies, vars kruie, knoffel en speserye om die kos se geure uit te bring,” moedig Pieters aan.
“In die winter kan ’n heerlike groentesop, en ’n sny vars growwe brood die hele ete wees. Oorweeg ook ’n veganistiese pizza sonder kaas met pesto, olywe, tamaties, en dies meer. Die klem bly steeds op ’n gesonde keuse van hoofsaaklik natuurlike produkte.”
Probeer hierdie lekker veganistiese resepte
Indien jy sukkel om te besluit wat om vir aandete te maak die dag waarop jy ’n plantgebaseerde dieet gaan volg, stel Ryan die volgende maklike resepte voor:
Spaghetti met lensiebolognaise
Porsies: 2
Vooraf: Week lensies oornag
Bereidingstyd: ±70 minute
Wat jy benodig
2 t Forage and Feast olyf- of avokado-olie
1 ui, gekap
1–2 knoffelhuisies, fyngekap
2 selderystokkies, gekap
2 mediumgroot wortels, geskil en fyngesny
200 g gedroogde lensies, week dit oornag, spoel en dreineer
1 blik Pot O’ Gold-gekapte tamaties
1 lourierblaar
½ t gedroogde fyn origanum
250 ml groenteaftreksel
sout
varsgemaalde swartpeper
200 g glutenvrye Simple Truth-spaghetti
Maak só
Verhit die olie tot warm en voeg die ui, knoffel, seldery en wortels daarby. Roerbraai 15 tot 20 minute tot sag.
Roer die lensies, tamaties, tamatiepasta, kruie en aftreksel in. Verhit tot kookpunt. Stel die hitte laer en laat prut 40 tot 50 minute. Voeg ’n bietjie water by indien nodig.
Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Kook die pasta tot gaar en dreineer.
Sit die lensiebolognaise op die gaar pasta voor en geniet!
Indien jy bang is jy word honger tussen etes, maak jou eie hoemoes en peusel aan rou groente soos wortels en komkommer wat jy in die hoemoes doop.
Hoemoes
Lewer: 1½ k
Bereidingstyd: 5 minute
Wat jy benodig
1 blik Pot O’ Gold-kekerertjies
4 e tahinipasta
1–2 knoffelhuisies
sap van 1 suurlemoen
½ t komyn
1 e geroosterde dennepitte
sout na smaak
Maak só
Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn. Voeg ’n eetlepel of twee water by indien dit te dik is. Kan ongeveer een week in ’n lugdigte houer in die yskas hou.
Lees volgende week meer oor die voorlopige veganis in ’n reeks artikels oor wat dit behels om veganisme op die proef te stel. Sien hieronder die eerste artikel in dié reeks.
Hierdie artikel is geborg deur Checkers. Sou jy veganisme op die proef stel, probeer gerus Checkers se Simple Truth-reeks wat ’n verskeidenheid gesonder en veganistiese produkte insluit.