Die traagheid of onbeholpenheid van amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het tot die verlies van sowat R573 miljoen vir die staatskas gelei.
Dit blyk uit ’n uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria verlede maand waarin regter Bashier Vally hom skerp uitgespreek het teen die SAID se optrede in die hantering van die belastingsake van South African Custodial Services (Sacs).
Sacs is ’n private konsortium wat in 1999 as deel van ’n openbare-private vennootskap met die staat die kontrak gekry het om ’n nuwe tronk by Louis Trichardt in Limpopo te bou.