’n Baie beperkte venstergeleentheid sal onder baie spesifieke omstandighede geskep word waardeur mense vooraf toegang tot hul aftreegeld kan kry.
Maar baie water moet nog in die see loop hieroor, soos wetgewing wat dit moontlik maak, wat hopelik teen die einde van die jaar voor die parlement sal wees, het Ishmail Momoniat, adjunkdirekteur-generaal van finansies, Dinsdag gesê.
Om in krisistye mense voor aftrede toegang tot hul aftreegeld te gee, is van die omstrede voorstelle wat al tot vervelens toe by Nedlac bespreek is, het Tito Mboweni, minister van finansies, Dinsdag op dieselfde mediakonferensie gesê waar die finansiële hulppakket bespreek is wat pres. Cyril Ramaphosa Sondag aangekondig het. Dit was in reaksie op die gewelddadige plundery en vandalisme vroeër in Julie in Gauteng en KwaZulu-Natal.