Deeltiteleienaars en eienaars wat in ’n skema woon met ’n huiseienaarsvereniging moet die bestuur van die skema toevertrou aan die leiers wat hulle verkies het om besluite namens hulle te neem.
Deeltitelwetgewing is baie voorskriftelik en sit duidelik uiteen hoe trustees ’n skema moet bestuur. Ouer deeltitelskemas, waarvan die reëls nog nie opgedateer is nie, het dalk ’n minder duidelike vertrekpunt vir bestuur, maar die standaard-bestuursreëls bepaal tog hoe dié tipe agterstand of onsekerheid herstel kan word.
Skemas met ’n huiseienaarsvereniging het ’n grondwet wat normaalweg die bestuursbepalings en bevoegdhede van die trustees bevat. Hier ook is die bepalings soms baie deeglik uiteengesit, of daar is dalk gapings waar eienaars nie seker is hoe om ’n spesifieke situasie te hanteer nie.