Die geleidelike rentekoersverhogings wat die Reserwebank vanjaar gaan toepas, sal ’n demper op huisverkope sowel as die verhuurmark plaas, maan Kobus Lamprecht, ’n eiendomskenner en redakteur van die Rode-verslag.
Normaalweg vaar die verhuurmark beter wanneer rentekoerse styg. Dis omdat baie voornemende kopers ’n afwagtende houding inneem omdat hulle potensieel afgeskrik word deur die moontlikheid van groter huisverbandbetalings.
Hulle huur dus vir langer. Dit het in die verlede in die guns getel van verhuurders wat hul huurgeld weens die groter vraag na huureiendom kan verhoog. Wanneer die vraag na huureiendom toeneem, is die besettingskoers ook hoër.