Die internasionale idee van ’n woonplek of -buurt waar jy binne 15 minute of te voet by enigiets van skole, winkels en gimnasiums tot restaurants kan uitkom, raak al hoe gewilder en blaas reeds nuwe lewe in die Suid-Afrikaanse eiendomsmark.
Stefan Botha, direkteur van Rainmaker Marketing wat in die eiendomsektor spesialiseer, sê die konsep van die “15-minuut-woonbuurt” is nie nuut nie, maar Covid-19 het momentum daaraan gegee toe mense al hoe meer op hul onmiddellike omgewing en gemeenskap begin fokus het.
Boonop kan mense die stygende vervoerkoste vermy as al die nodige geriewe op hul drumpel is én dis omgewingsvriendeliker om minder te ry.