Die ontsporing van ’n steenkooltrein met 97 waens wat na Richardsbaai se uitvoerhawe op pad was, is die jongste van ’n reeks al hoe astranter voorvalle van ekonomiese sabotasie deur georganiseerde misdaadbendes.
Berigte oor afpersing vir finansiële of politieke gewin neem die afgelope tyd toe en dit raak al hoe meer sektore, met die ekonomiese skade wat toeneem.
Bonginkosi Mabaso, waarnemende handelshoof van Transnet Freight Rail (TFR), sê Transnet verloor R55 miljoen per dag as sy steenkoollyn nie in bedryf is nie. Maar die oplopende uitwerking op die mynbou en ander bedrywe kan beteken die ekonomie verloor sowat R1 miljard per dag. Die Richardsbaai-steenkooluitvoerhawe kry boonop boetes as hy nie sy uitvoerteikens kan haal nie.