Suid-Afrika het die voordele wat hy uit die Agoa-handelsooreenkoms met die VSA kon put, versmaai, en die risiko is groot dat dit teen einde 2025 vir goed gekanselleer sal word, maan kenners.
Agoa is die akroniem vir die African Growth and Opportunity Act – ’n stuk Amerikaanse wetgewing wat sekere Afrikalande toelaat om produkte en goedere belastingvry of teen laer tariewe na die VSA uit te voer.
Die Agoa-inisiatief het in 2000 in werking getree onder die presidentskap van Bill Clinton en sou teen 2009 verval het, maar dit is verleng tot 2015. Dit is toe vir ’n tweede keer verleng en is veronderstel om in Desember 2025 tot ’n einde te kom.