Die spanning binne die driepartyalliansie van die ANC, SAKP en Cosatu was hoog op die agenda vir die vakverbond Cosatu se kongres verlede week.
Hierdie spanning bestaan reeds geruime tyd en dit het in 2014 vanuit Cosatu-geledere daartoe gelei dat Cosatu se eertydse hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, en die metaalwerkersvakbond Numsa Cosatu verlaat het. Vavi en Numsa het toe die opposisie-vakbondfederasie Saftu gestig. Hoewel voorgenoemde gebeure hoofsaaklik deur ’n pro- en anti-Zuma-sentiment gedryf is, was daar toe reeds ’n hewige debat in Cosatu-geledere oor hul voortgesette verbintenis tot die driepartyalliansie.
Die spanning vier nou hoogty met Cosatu se onlangse nasionale wegbly-aksie oor kwessies soos korrupsie en geen verhogings vir staatsamptenare.