Die JSE het Donderdag vir die derde dag agtereenvolgens in 2023 gestyg omdat die heropening van China beleggers se groeiende aptyt vir meer riskante bates aangevuur het.
Teen die middaguur het die JSE se indeks van alle aandele met 1,5% of meer as 1 177 indekspunte gestyg tot 75 745. Die JSE het die dag 1,1% hoër op 75 430 gesluit.
Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) het Woensdag nadat die mark gesluit het die notules van sy beleidsvergadering in Desember uitgereik, wat gewoonlik aan die mark ’n beter idee gee van wat moontlik voorlê. Fed-amptenare het hier gewaarsku dat “ongegronde rentekoersverlagings” pogings gaan belemmer om die inflasieteiken te bereik, berig Bloomberg.