Suid-Afrikaanse verbruikers het te lank onnodig opgedok vir produkte soos plaaslike hoender en staal omdat die regering onmededingende bedrywe probeer beskerm het met hoë invoertariewe, sê kenners.
Hulle verwelkom nou die departement van handel, nywerheid en mededinging se meer gematigde benadering tot handelsbeleid.
Donald MacKay, stigter en uitvoerende hoof van XA Global Trade Advisors, het die afgelope week op ’n mediakonferensie gesê Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, blyk nou die inflasieprentjie in ag te neem wanneer oor handelskwessies besluit word. “Maar inflasie behoort ‘ingebou’ te wees wanneer daar handelsbesluite geneem word en dit moet vinnig geïmplementeer word – nie jare ná die tyd wanneer die (prys-) krisis verby is nie,” sê MacKay.