Die vrees vir wegholinflasie weens “drasties hoër oliepryse” en stygende kospryse wêreldwyd weens die oorlog in Oekraïne het die Reserwebank Donderdag genoop om die rentekoers met 25 basispunte te verhoog.
Dié stap, wat alom verwag is, bring die sentrale bank se repokoers op 4,25% te staan en die prima rentekoers van handelsbanke op 7,75%.
Dis die derde agtereenvolgende verhoging in die rentekoers nadat dit ook in November en Januarie met 25 basispunte verhoog is.