Die Reserwebank het Donderdag die rentekoers verhoog, soos 95% van ekonome inderdaad verwag het, maar het geskok met die omvang daarvan.
Die verhoging van 50 basispunte bring die repokoers, waarteen die sentrale bank geld aan handelsbanke leen, op 7,75% te staan. Die prima rentekoers waarteen banke geld aan verbruikers en ondernemings uitleen, verhoog tot 11,25%.
Dis die eerste keer in 14 jaar, sedert Mei 2009, dat die rentekoers 11% of meer beloop.