Sedert Augustus herinner die vertoning van die meeste wisselkoerse teenoor die Amerikaanse dollar aan ’n klimtol wat teen ’n afdraande beweeg – die hele tyd op en af, maar elke keer effens laer.
Die Suid-Afrikaanse rand is een van hulle, met ’n stelselmatige verswakking teenoor die dollar wat tussen 16 Augustus en 4 November byna 12% beloop het, net om twee dae later weer met 2,6% te versterk en weer tot onder die R18-kerf te beweeg.
Dit is egter ’n fout om na die rand as algemeen swak te verwys, aangesien Suid-Afrika se geldeenheid heel skaflik teenoor die meeste ander geldeenhede vertoon, met die dollar wat sedert die begin van die jaar min of meer dieselfde styging as teenoor die euro behaal het en die Britse pond wat erger slae gekry het.