Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ’n nuwe loonaanbod aan vakbonde gemaak wat in die komende week met ’n staking wil begin.
Die SAID het Saterdag op ’n spesiale vergadering van die nasionale bedingingsforum gesê hy kan besparings van die vorige boekjaar asook beplande besparings vir die lopende boekjaar gebruik om ’n mate van finansiële verligting aan werknemers te gee, hoewel geen besonderhede oor die grootte van die bedrag in sy mediaverklaring hieroor gegee is nie.
Die SAID het aanvanklik geen verhoging vir vanjaar aangebied nie, terwyl die vakbond Nehawu en die Vereniging van Staatsamptenare ’n verhoging van inflasie plus 7% eis. Albei vakbonde het stakingsertifikate om vandeesweek landwyd met stakings by alle SAID-kantore te begin.