Pres. Cyril Ramaphosa se oorverdowende stilte – wat bespiegeling aanwakker dat die land weer op strenger vlakke van inperking geplaas gaan word – ontstig die sakegemeenskap.
Business for South Africa (B4SA) het Dinsdag in ’n lang verklaring te velde getrek teen die heersende onsekerheid, wat die organisasie as beleidsonsekerheid beskryf wat beleggers- en verbruikersvertroue in die wiele ry, en daarmee saam die land se ekonomiese herstel.
Daar word nou al weke lank bespiegel dat Ramaphosa die land gaan toespreek en dalk gaan aankondig dat daar teruggekeer kan word na ’n strenger vlak van inperking omdat daar plek-plek tekens is van ’n opvlamming van Covid-19-infeksies.