Die swak rand en aanloklike opbrengskoerse op staatseffekte maak Suid-Afrikaanse bates beleggings waarin “slim” buitelanders behoort te belê, sê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.
Kganyago was die spreker op die geleentheid oornag Suid-Afrikaanse tyd in New York waarop ’n samewerkingsooreenkoms tussen die New Yorkse Aandelebeurs en die JSE onderteken is. Die twee aandelebeurse gaan saamwerk om die moontlikheid van dubbelnoterings te ondersoek en ook inligting oor kriptobates en ander finansiële instrumente deel.
Dr. Leila Fourie, uitvoerende hoof van die JSE, was lid van die afvaardiging na New York.