Maatskaplike toelae bereik wel die armste van arm Suid-Afrikaners – mense wat dit die nodigste het om letterlik honger af te weer.
Tim Köhler en prof. Haroon Bhorat, albei van die Universiteit van Kaapstad, sê dit lyk tog asof die verhoging van toelae en die nuwe toelaag wat vir die Covid-19-krisis ingestel is, wel verligting vir armes bring. Köhler en Bhorat se studie is deel van ’n reeks studies deur meer as 30 navorsers aan Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite wat pas bekend gemaak is. Dit staan as die Nids-Cram-navorsing bekend. (Sien kassie hier onder).
Die regering het in April aangekondig maatskaplike toelae word vir ses maande verhoog en ’n nuwe toelaag van R350 per maand word ingestel vir werkloses wat geen ander staatshulp ontvang nie. (Sien ook kassie hier onder.)