Die Suid-Afrikaanse bedryf vir die vervaardiging van voertuie en voertuigonderdele sal vinniger na elektriese voertuie (EV’s) moet oorskakel omdat Europa, ’n reuse-uitvoermark, met rasse skrede besig is om petrol- en dieselmotors uit te faseer.
Verkope van elektriese voertuie in die Europese Unie (EU) groei so vinnig dat dié voertuie teen 2030 sowat 40% van alle nuwe voertuigverkope daar sal uitmaak, blyk uit die groenskrif oor toekomstige produksie van EV’s in Suid-Afrika wat onlangs verskyn het
Volgens die Uitvoerraad vir die Voertuigbedryf (AIEC) het sowat 73% van voertuie en voertuigonderdele wat Suid-Afrika in 2020 vervaardig en uitgevoer het, na die EU gegaan. In waarde het dit sowat 60% van die totale uitvoer deur die voertuigbedryf uitgemaak.