Die owerhede moet dringend die Britse bankgroep HSBC vra om die geld te help opspoor wat weens staatskaping na verskeie Gupta-maatskappye gevloei het, beveel die Zondo-kommissie in sy finale verslag aan.
Geld wat na die Gupta-maatskappye Regiments Asia, Tequesta, Morningstar en na ’n geldwasserynetwerk in Hongkong en China gevloei het, het Suid-Afrika via HSBC-bankrekeninge verlaat.
Die Finansiële Inligtingsentrum en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet met hul eweknieë in Hongkong en China skakel om die geldspoor te help volg. Hulle moet ook die owerhede in die Verenigde Arabiese Emirate vra vir hulp met die geld wat na Tequesta en Regiments Asia se bankrekeninge in Dubai gestuur is.